GEORGE NUUS - Maretha van der Westhuysen, voorsitter van die George-VLV, het haar ongeveer twee jaar gelede in die Genevafontein-aftreeoord kom vestig, maar nie om stil te sit nie.
Benewens die leisels wat sy by die VLV vashou, is sy ook die voorsitter van die Oudtshoorn-skrywersforum wat maandeliks vergader. Die gastehuis wat sy op haar en haar oorlede man, Johan, se familieplaas in Zebra begin het, roep haar ook tot drie keer per week oor die berg.
Dan moet sy stappers op die Uniondale-Mosselbaai Camino wat daar oornag, te woord staan. Sy is 'n gevatte spreker met 'n wye kennis oor die ryk geskiedenis van die plaas en omgewing. Sy speel ook vir die stappers op die traporreltjie. Maretha is verder die samesteller van die stapgids vir die Camino-roete.
Haar belangstelling in die geskiedenis het daartoe gelei dat sy 'n klompie jare gelede deur die Herold-gemeente versoek is om 'n eeufeesbundel oor die kerk se geskiedenis saam te stel. Dit was onvermydelik dat sy dit in 'n uitgebreide werk ontwikkel het wat ook die agtergrond van die gebied van Zebra tot De Vlugt insluit. Dit is getiteld 'n Eeu van genade.
Maretha het by Paarl Gimnasium skoolgehou voor sy as jong bruid op die plaas kom bly het waar haar seun, Pieter, nou die boerdery behartig.
Sy seun is die agste geslag Van der Westhuysen op die plaas, vertel sy. Sy gesels onderhoudend oor die geskiedenis en genealogie van die familie wat sy in die 1600's gaan haal by die eerste aankomeling in Suid-Afrika.
"Ek het oor die 50 jaar op die plaas gebly, so ek verlang. Maar ek is nie 'n mens wat te veel tob nie en het dadelik begin inskakel by aktiwiteite hier in George."
Toe sy 'n kind was, het haar gesin in George gewoon waar haar pa, Frans Botha, die hooflanddros was en haar ma 'n onderwyseres.
Maretha het in die afgelope paar jaar twee kortverhaalbundels uitgegee, Skakerings van kort en Deur haar venster. Haar derde boek is kortverhale vir kleuters en is tans by die uitgewers. Sy werk ook aan 'n vierde boek wat op tienerlesers gerig is.
Maretha se twee kortverhaalbundels.
Van der Westhuysen word gereeld genooi om praatjies by verenigings en byeenkomste te lewer en voorlesings van haar verhale te doen.
Van haar stories is al op die RSG-radioprogramme Skrywers en Boeke en Kortom voorgelees, soos die afgelope Dinsdagaand op Kortom.
In Maart is daar nog 'n voorlesing. Van haar verhale is ook in Afrikaanse kortverhaalbundels opgeneem, waaronder bundels van die US Woordfees en die Bloemfonteinse Skrywersvereniging.
Maretha word beskryf as 'n skrywer met kennis, insig en fyn waarnemingsvermoë van mense wat van alledaagse gebeure 'n boeiende verhaal kan weef.
Hierdie bundel bevat meer as net geskiedenis oor die Herold-gemeente.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’