Die Siviele Ingenieursdepartement van die George-munisipaliteit is besig om 1 500 paaltjies langs die hoofstraat af te laai wat saam met 2 000 reflekteerborde en sandsakke gebruik gaan word om strate te sluit wat deel van die roete vorm en deur die sakekern van George loop.
Verskeie verkeersborde is alreeds aangebring om die publiek in te lig oor die wedren en die publiek word weereens herinner dat Yorkstraat geheel en al vir verkeer gesluit gaan wees vanaf 04:00 tot 11:30. Beheerde oorgang sal slegs by verkeersligte toegelaat word en in Courtenay- en Knysnaweg sal slegs twee bane vir verkeer oop wees.
Meer as 800 inskrywings is ontvang en vervoersubsidies is aan 44 groepe van oor in Suid-Afrika uit die OCC se begroting betaal om hulle in staat te stel om reisreëlings te finaliseer.
Atlete moet môre, 14 Februarie by die George-munisipaliteit se banketsaal in Yorkstraat registreer tussen 10:00 en18:00 en weer vanaf 19:00 tot 21:00. Om 18:00 sal 1 000 atlete, spanbestuurders en assistente 'n ete ontvang wat deur King Foods voorberei is.
Ansie Swart, wedrenkoördineerder, is baie opgewonde oor 'n nuwe registrasieprogram wat spesifiek vir die OCC se behoeftes ontwerp is deur Chain Gang Events en wat atlete per SMS op hoogte sal hou van belangrike inligting.
"Die program sal die registrasieproses bespoedig en vergemaklik en ons glo dit sal 'n veel minder stresvolle proses wees as in die verlede," sê sy.
"VTS Communications speel 'n belangrike rol in die registrasieproses en sal Vrydag en Saterdag gratis Wi-Fi-toegang verskaf aan alle atlete om hul ervaring, foto's en uitslae op sosiale webtuistes te deel."
Die wedren begin om 08:00 by Mount View Resort and Lifestyle Village in Yorkstraat en eindig om 11:00. Ian Laxton, bekende omroeper wat 'n lang geskiedenis met die OCC het, sal as aankondiger optree en Michael Lindt sal toeskouers vermaak met liedjies vanaf sy nuwe CD.
Die prysuitdeling vind plaas om 11:30 en die publiek word genooi om atlete langs die roete aan te moedig. Verskeie besighede op die roete sal geskenke en verversings uitdeel aan die deelnemers.
Na die prysuitdelingseremonie sal 1 000 atlete en spanbestuurders weer 'n ete ontvang wat voorberei is deur Laerskool George-Suid se ondersteunersklub en leerders van Hoërskool Outeniqua. Die Rotariërklub van George, wat ook deel is van die organiserings-
komitee, is verantwoordelik vir die reëlings rondom Vrydag en Saterdag se etes.
Alle baanbeamptes kan hulle sakke Vrydag by die banketsaal tussen 10:00 en 14:00 afhaal.
Airports Company South Africa (Acsa) George-lughawe is die hoofborg van die Outeniqua Rolstoelwedren (OCC) vir die vierde jaar en George-munisipaliteit tree as gasheerstad op en verskaf ook monetêre en logistieke ondersteuning. Verskeie ander plaaslike en nasionale borge verskaf geldelike hulp en ondersteuningsdienste.
Meer inligting is beskikbaar op die webtuiste www.georgeocc.co.
Kinders van Carpe Diem Skool wat aan die pret-item gaan deelneem, van links: Zavian Esterhuizen, Sivuyile Yangaza, Granwell Willemse, Olwethu Gwejela en Clidene Davids. By hulle is, van links: York Hoërskool se hoof, Francois Moll, Pieter Pepler (George-munisipaliteit), Brenda Vorster (bestuurder van Acsa George-lughawe), Ansie Swart (OCC-hoofkoördineerder) en Outeniqua Hoërskool se hoof, Christo Vorster. Foto: Alida de Beer
Van die OCC-baanbeamptes by hul vergadering verlede week, van links, agter: Peter Pepler (George-munisipaliteit), Johan Schroeder, Annie Vaas, Vera Viljoen en Pieter Theron (roetekoördineerder). Voor: Elizabeth Theron, Marita Swanepoel (direkteur), Cheryl Kittens, Hermien Hendriks en Sipi Vaas. Foto: Myron Rabinowitz
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'