Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - George-munisipaliteit loop breëbors rond nadat hulle 'n skoon oudit van die ouditeur-generaal (OG) ontvang het.
Dit beteken nou dat die munisipaliteit kwalifiseer om vir meer staatstoelaes en toekennings aansoek te doen. Vir van die toekennings/toelaes is 'n skoon oudit 'n vereiste. Dit kan weer tot meer effektiewe dienslewering lei.
Die bevinding is laat verlede week deur die OG aan die munisipaliteit gestuur en is vir die finansiële boekjaar 2021/22.
Dit is die agste keer dat die munisipaliteit sedert 2012 'n skoon oudit ontvang. In die tydperk het die munisipaliteit twee ongekwalifiseerde oudits ontvang.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het vroeër die week in 'n onderhoud benadruk dat die skoon oudit direkte voordele vir inwoners en belastingbetalers inhou.
Van Wyk het gesê die OG doen 'n deeglike ondersoek voordat 'n mening uitgespreek word. Die finansiële state van die munisipaliteit word ontleed en as daar onduidelikhede is, word spesifieke vrae gevra.
VIDEO: Goeie nuus vir George
Dit gaan nie net oor finansies nie, maar ook byvoorbeeld of wetlike verpligtinge nagekom is en of in prestasie doelwitte geslaag is.
Volgens hom baan dit die weg vir die munisipaliteit om aansoek te doen vir 'n sogenaamde woonbuurt ontwikkelingstoelaag. As dit goedgekeur word, sal dit spesifieke fondse beskikbaar stel vir byvoorbeeld die opgradering van Thembalethu.
Daar gaan nou spesifiek gekyk word vir watter toelaes aansoek gedoen kan word. "Ons het goed gedoen gegewe die omstandighede in die land. Ons is ongelooflik trots op die personeel."
In George is reeds twee jaar gelede begin om aandag te gee aan die opgradering van infrastruktuur. "Jy kan so-iets net doen met 'n goeie span."
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste, het gesê die skoon oudit maak die bronne groter en meer waaruit fondse bekom kan word.
"Onder leiding van burgemeester Van Wyk was een van die doelwitte om 'n direkteurspan te kry wat George na die volgende hoogte kan neem. Dit werp nou vrugte af onder die leiding van dr. Michele Gratz, die munisipale bestuurder en Riaan du Plessis, die hoof finansiële beampte."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'