GEORGE NUUS - Dit is moontlik dat George-munisipaliteit onder 'n vorm van administrasie geplaas kan word. Dit is vanoggend deur Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, aan die George Herald bevestig.
Bredell was 'n spreker by 'n sakegeleentheid wat onder die vaandel van die George-sakekamer by Fancourt gehou is. Die geleentheid is deur verskeie sakeleiers ook Charlotte Clarke, George se onderburgemeester, en Gerrit Pretorius, speaker van die stadsraad, bygewoon.
Indien formele administrasie sou plaasvind, sal die dag tot dag bedryf van die munisipaliteit deur 'n spesifieke aangewysde persoon hanteer word.
Tydens vraetyd het Bredell op vrae van die George Herald bevestigend oor die moontlikheid van administrasie geantwoord.
Na afloop van die geleentheid het hy benadruk dat geen finale besluit nog geneem is nie.
Hy het aan die George Herald gesê die Valke se verslag is aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig. Dit is al 18 maande. Die provinsie se forensiese afdeling het ook 'n ondersoek gedoen. "Die probleem wat ek het, is om te kyk hoe funksioneer George. Daar is goeie goed wat in George gebeur."
George is wel nie op die vlak wat hy dit sal wil sien nie. "Daar is onstuimigheid in sy bestuur en dit moet uitgesorteer word."
Daar is moontlikhede soos om 'n span kundiges in te stuur. 'n Administrateur alleen kan niks doen nie. "Dit moet 'n span mense wees."
As die raad daartoe instem, kan 'n span gestuur word. "Dan kan ons regruk wat verkeerd is en kalmte kry."
Hy kyk persoonlik na administrasie. As die inligting wat uit die forensiese ondersoek kom wys administrasie is nodig sal so 'n voorstel gemaak word. Dan sal die nodige prosesse volg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'