Redelinghuys is Vrydagaand tydens die Eden Sporttoekennings as joernalis van die jaar aangewys.
Hugo is aan die begin van 2014 as die Caxton/Group Editors Nasionale Sportskrywer van 2013 verkies – ‘n titel wat hy voor die neus van van die grootste sportskrywers in die land weggeraap het.
Hugo sê hy is oorbluf en uit die veld geslaan deur die nuutste eerbewys “Na slegs twee jaar in George Herald se sportstoel het ek dit beslis nie verwag nie. Ek voel geëerd om die verhoog te deel met die room van Eden se sportlui.”
Dirk van der Westhuizen, streekbestuurder van sport by die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, sê hy glo almal in sport is baie dank verskuldig aan joernaliste. “Sport kan nie bestaan sonder dat die prestasies van deelnemers bekend gemaak word nie. Hugo is die eerste wenner van hierdie titel in Eden en hy verdien dit oor en oor.“
Van der Westhuizen sê in die verlede is al die sportskrywers in Eden vereer, maar dat daar nou elke jaar ‘n joernalis met die titel sal wegloop. “Om te verseker dat ‘n joernalis van Eden ook aan die Wes-Kaapse sporttoekennings kan deelneem en dalk deurdring na die nasionale toekennings in Johannesburg, is Eden nou verplig om ‘n wenner aan te wys.”
Die drie finaliste - vryskut joernalis André Stander, Hugo en Jacques Swart van Oudtshoorn Courant, George Herald se susterkoerant - is deur die 45 Eden Sportraad geaffilieerde federasies genomineer. Die 11 beoordelaars op die verkiesingskomitee is afkomstig van Eden Sportraad, die department en George-munisipaliteit.
Die senior sportman van die jaar is Protea baasskut Jaco Brink, terwyl branderplankryer Bianca Buitendag as senior sportvrou aangewys is. Junior sportman is gholfspeler Jovan Rebula en die atleet Jo-Ane van Dyk is junior sportvrou van die jaar.
NMMU se Deon Davids is 2014 se rugby-afrigter van die jaar.
Hou die George Herald Donderdag dop vir Hugo se volledige verslag oor die Eden Sporttoekennings.
.jpg)
André Stander (vryskutjoernalis van Die Burger), Kristy Kolberg (Eden Express) en Hugo Redelinghuys.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, GEORGE HERALD-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'