GEORGE NUUS - Die vrouedokter (36) wat verlede Vrydagmiddag deur 'n pasiënt by die Pacaltsdorp-kliniek aangerand is, is baie geliefd onder die inwoners in die area.
Noodeenheidpersoneel het haar na die aanval bebloed op 'n bed in 'n konsultasiekamer in die kliniek aangetref.
Prinsloo was aan diens toe sy deur 'n 30-jarige pasiënt, vermoedelik 'n geestesversteurde persoon, by die kliniek met 'n boutroffel onder die een oog gesteek is.
Sy het om hulp geskree waarna die pasiënt hom uit die voete gemaak het.
Dis onduidelik hoe die troffel in die kliniek beland het.
ER24-nooddienste het dr. Prinsloo met ernstige wonde aan haar gesig na die Mediclinic George vervoer waar sy in die waakeenheid aansterk.
Uit kommentaar op die George Herald se Facebookblad is dit duidelik dat die gemeenskap geskok is ná die sinnelose aanval op dié gewilde dokter wat altyd haar pasiënte se belange op die hart dra.
Almal is dit eens dat dr. Jane Prinsloo 'n besonderse dokter met deernis is, wat iedereen altyd met agting hanteer.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die verdagte Maandag 18 September deur Pacaltsdorp-speurders in hegtenis geneem en het hy gister (Woensdag
20 September) in die George-landdroshof verskyn op aanklag van ernstige aanranding. Teen druktyd was inligting oor sy eerste hofverskyning nog nie bekend nie.
Intussen is sekuriteit by die kliniek opgeskerp, maar die gemeenskap is steeds uiters ontsteld oor die voorval en voel meer moet gedoen word.
Virgill Gericke, PBI-raadslid en Pacaltsdorp-gemeenskapsleier, het aan die George Herald gesê dié tipe gedrag sal nie geduld word nie.
"Hierdie is professionele mense wat 'n gespesialiseerde diens aan die gemeenskap lewer. Hulle moet ten alle koste beskerm word.
"As die Wes-Kaapse departement van gesondheid pro-aktief opgetree het, sou hierdie situasie verhoed kon word. Dit kon lewensverlies tot gevolg gehad het."
Met slegs twee sekerheidswagte aan diens, word omtrent 4 000 pasiënte maandeliks hier behandel, geestesversteurdes ook.
Die kliniek beskik nie oor 'n toegewyde fasiliteit waar dié pasiënte behandel kan word nie.
"Dit is 'n baie gespesialiseerde taak om met dié tipe pasiënte te werk en dit kan soms gevaarlik wees. Ons doen 'n beroep op die department van gesondheid vir 'n plaaslike eenheid waar geestesversteurde pasiënte die nodige behandeling kan ontvang.
Intussen stel ons voor dat daar oor ooplyn-kommunikasie tussen die gesondheidskomitee en die polisie onderhandel word. Sodoende kan daar onmiddellik tydens 'n noodgeval opgetree word," sê Gericke.
Volgens Gericke is die kliniekpersoneel uit die veld geslaan en hartseer oor wat gebeur het.
"Almal is lief vir haar en die Pacaltsdorp-gemeenskap wens haar alle sterkte toe vir 'n volkome herstel. Ons spreek ons dank uit teenoor die personeel vir die onbaatsugtige diens wat hulle lewer en dat gesondheidsorg hier vir almal, selfs die armste van die armstes, verseker word."
By navraag het die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Nadia Ferreira, die voorval bevestig.
Lees vorige artikels hier:
• Update: Patient attacks doctor
• Opvolg: pasiënt val dokter aan
• Woman assaulted at Clinic
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'