Update
GEORGE NUUS - Die raaisel rondom Dario Sauerman van Rosedale se dood bly steeds onopgelos.
Dario (17), 'n leerder van Hoërskool Parkdene, is na bewering op 27 September op die oprit van die Knysna-kant van die N2 in die rigting na Pacaltsdorp doodgeskiet.
Volgens sy vriende wat die aand saam met hom was, het hulle drie skote gehoor waarvan een Dario getref het.
George Herald het met sy vriende gesels oor die gebeure die spesifieke aand. Blykbaar moes 'n paar van hulle gaan elektrisiteit koop en het vooruit gestap.
Dario en nog twee het halfpad by hulle aangesluit en die groep het glo saam terug huiswaarts gestap.
Volgens sy vriende se ooggetuienis is 'n skoot, wat hulle gedink het 'n waarskuwingskoot is, afgevuur uit 'n wit VW Polo-voertuig, en daarna nog twee skote in hul rigting waarvan een glo Dario getref het.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek steeds 'n saak van strafbare manslag.
"Tot op hede is daar geen getuies of direkte bewyse dat daar op die oorledene geskiet is met 'n vuurwapen nie. Die nadoodse ondersoek se uitslag is ook nog nie bekend nie."
Lees 'n vorige artikel: Grudood 'n raaisel
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'