GEORGE NUUS - Freek Robinson (69) het verlede Donderdagaand sy boek, Op die man af, by Otibity bekendgestel waar Danie Acker van Rauch Gertenbach Prokureurs, die borge van die geleentheid, die gesprek gelei het.
Die boek bevat memoirs van Robinson oor sy lang en ryk loopbaan as joernalis, radio-omroeper en TV-aanbieder.
Hy het die boek geskryf in die hoop om begrip onder lesers aan te wakker vir hoe hy as joernalis gefunksioneer het.
"Ek was baie geseën om baie dinge te belewe. My beroep het baie deure vir my oopgemaak, maar ek het altyd onthou om ewewigtig te wees, nie mense te verneder of disrespekvol te wees wanneer ek nie met iemand saamgestem het nie. Ek hoop dat die boek die leser sal help om ander mense se standpunte 'n bietjie meer te ontleed en te probeer insien."
Deur Acker se vrae het Robinson allerhande interessante staaltjies oor sy ervarings as jong kind, student en later as joernalis gedeel.
Hulle is grootgemaak met die lewensuitkyk dat geen mens weens sy velkleur beter of slegter is as 'n ander nie. Hy self het reeds van hoërskooljare af baie in die politiek belanggestel en aktief geredeneer met medeleerlinge en later medestudente.
Sy eerste werk as joernalis was in die nagkantoor van 'n Afrikaanse dagblad in Pretoria en ná 'n honneursgraad in letterkunde het hy as junior joernalis by die televisienuusafdeling van die SAUK 'n pos gekry. Hy het gou opgang gemaak en later as bulletinredakteur begin waarneem.
Tydens die 1976-onluste het hy met sy eerste proeflopie in nuusuitsendings ter nouernood in Soweto saam met 'n kameraman ontkom. Hulle is met klippe bestook en die kar waarin hulle gery het, moes hulle agterlaat en inspring by 'n swart polisieman wat toevallig verbygery het.
Robinson het die verhaal gedeel van 'n swart suster wat saam met sy pa, wat toe in Cradock as dokter gepraktiseer het, in die dag in die teater gehelp het om wit mense se lewens te red, en snags in haar huis bokhael uit rûe verwyder het van mede-inwoners in die township wat deur die polisie geskiet is.
Haar man was 'n swart polisieman en hulle huis saam met die huise van vier ander polisiekollegas is een nag aan die brand gesteek en hulle moes vlug. Hulle kon weens die apartheidswette nie in die wit woongebiede gehuisves word nie. Hulle is ten einde raad in 'n skuur op die landbouskouterrein gehuisves.
Robinson sê hy wou aanvanklik die boek se naam gemaak het, 'Mense in die middel', wat verwys na mense soos hierdie swart suster en ook na homself wat die middelpad gekies het en nie in hul optrede teenoor wit of swart onderskei nie. "Ek wil vir mense sê kies die middelpad. Daar is goed en sleg in almal opgesluit en dit hang nie van jou velkleur af nie."
Robinson was later nuusleser vir kykNET, en aanbieder en regisseur van die aktualiteitsnuusprogramme, Fokus en Robinson Regstreeks.
Tans skryf en doen hy Zoom-onderhoude vir LitNet. Hy skryf ook vir Maroela Media en doen opleiding in TV-vaardighede vir sakelui.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'