GEORGE NUUS - Die volle Carpe Musicam! orkes en die ensemble van Laerskool George-Suid (LGS) span hul kragte saam om musiekliefhebbers volgende Dinsdag (19 Junie) met 'n Extravaganza te begroet.
Die konsert vind om 18:30 by die skoolsaal in Laingstraat plaas. Alle musiekleerders van LGS, behalwe die beginners, sal deel wees van hierdie unieke musiekaand.
Die skool en Carpe Musicam! orkes loop reeds die afgelope twee jaar 'n nou pad saam en vorm as't ware deel van die skool se musiekdepartement, met hul borgskap van musieklesse vir leerders wat dit nie self kan bekostig nie. Die orkes se "ouers", Norman Carless en Elsabé Barkhuizen, het 'n passie vir die ontwikkeling van musiek by skoolleerders en by alle konserte van Carpe Musicam! word die wins onder andere daarvoor aangewend.
Volgens die dirigent, Norman Carless, is dit moontlik die eerste keer in die Suid-Kaap dat 'n skoolensemble en koor deur 'n orkes begelei word.
Die werke sluit in Offenbach se Can-Can van Orpheus in the Underworld, Schubert se Marche Militaire vir klavierduette, snare en dromme sowel as 'n fluit-solo vanuit Mark Nightingale se From Ragtime to Riches. Die finale item, Jupiter van Gustav Holst se Planets word saam met 'n massakoor aangebied.
Kaartjies kos R100 (volwassenes en kinders) en is beskikbaar by Daleen by 044 873 3464.
'Ons bring jou die nuuste George, Tuinroete nuus'