Reddingswerkers van Metro-nooddienste moes Saterdagaand hidroliese toerusting gebruik om 'n man uit 'n wrak te bevry nadat 'n bakkie en 'n Mercedes Benz reg van voor met mekaar in PW Botha Boulevard gebots het.
Die bestuurder van die Mercedes, mnr. Stefanus Fourie van Borcherds, was agter sy stuurwiel vasgepen en het beserings aan sy bekken, bene en kop opgedoen. Paramedici van Metro het hom na die hospitaal vervoer. Sy passasier, me. Maryna Bezuidenhout, het ligte hoofbeserings opgedoen.
Die bestuurder van die bakkie, mnr. F. Barnard van George, het op die toneel van erge borspyn gekla en is deur paramedici van Netcare 911 na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Verkeerspersoneel het die pad, tussen Metro en die nywerheidsgebied vir meer as 'n uur gesluit terwyl reddingswerkers op die toneel besig was.
Kapt. Elsa Gerber, kommunikasiebeampte van die Conville-polisie, het by navraag gesê die oorsaak van die botsing word nog ondersoek en 'n dossier van roekeloos en nalatige bestuur is geopen.
Maandagoggend omstreeks 08:00 is 'n voetganger ook in PW Botha Boulevard deur 'n motor raakgery. Die bestuurder van die motor het na bewering beheer oor die voertuig verloor waarna dit omgeslaan en die voetganger getref het. Netcare 911-nooddienste het die beseerde voetganger na die hospitaal vervoer.
Bestuurders hardloop weg na botsings
In twee afsonderlike ongelukke, in Yorkstraat en Pacaltsdorp, het die bestuurders weggehardloop van die toneel voordat die polisie opgedaag het.
Tydens 'n botsing verlede Dinsdagaand het 'n BMW, 'n bakkie en 'n Volkswagen Golf op die hoek van York- en Albertstraat in mekaar vasgery.
Die bestuurder van die BMW is na bewering 'n polisieman verbonde aan die George-polisie. Met die aankoms van provinsiale verkeer op die toneel, het ooggetuies aan die beampte gesê dat die bestuurder van die BMW weggehardloop het.
Sy passasier, vermoedelik ook 'n polisieman, was glo ook besig om van die toneel af weg te loop, maar is naby die Landbank-gebou in Yorkstraat deur die verkeersbeampte voorgekeer. Die passasier wou egter nie sê wie die bestuurder was of sy besonderhede aan die verkeersbeampte verskaf nie.
Die bestuurder van die Golf, is vir mediese behandeling na die hospitaal vervoer.
Die George Herald het 'n navraag aan kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gestuur wat na die George-polisie se kommunikasiekantoor aangestuur is vir kommentaar. Geen kommentaar is egter teen druktyd ontvang nie.
In 'n tweede voorval Saterdagaand omstreeks 20:30 het twee voertuie, 'n grys MG-motor (registrasienommer CAW 31213) teen 'n grys Volkswagen Polo in Missionstraat, Pacaltsdorp gebots. Die bestuurder van die MG-motor het die toneel verlaat voordat die polisie en verkeer daar opgedaag het.
Geen besonderhede kon bekom word of die bestuurder al opgespoor is en of die voorval deur die polisie ondersoek word nie. Een van die passasiers in die Polo is weens skok na die hospitaal vervoer.
* Various accidents have occurred in the George area since last week, leaving several people injured and hospitalised. In two of these incidents, the drivers ran away from the scene of the accident before the police and traffic officers arrived.

Twee voertuie het Saterdagaand in PW Botha Boulevard gebots. Reddingswerkers van Metro-nooddienste moes meganiese kake gebruik om die bestuurder van die Mercedes Benz uit die wrak te bevry. Die bestuurder was vasgepen agter die stuurwiel. Foto: Lizette da Silva
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS