Update
GEORGE NUUSFLITS - Die eienaar van Boston’s Tavern in Parkdene, Eswill Biehl (43), is kort na 12:00 vanmiddag, Vrydag 28 September in die Thembalethu-streekhof tot effektief 18-jaar tronkstraf gevonnis.
Biehl is op Donderdag 6 September skuldig bevind aan die koelbloedige moord op Jeanette October (58) wat oorkant sy taverne gewoon het.
Buiten die aanklag van moord is hy ook skuldig bevind op ‘n aanklag van poging tot moord op die oorledene se seun, sowel as 'n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
“Gedurende die hele verhoor het hy geen berou getoon nie. Hy glo steeds in sy onskuld en hou voet by stuk dat die voorval uit selfverdediging was. Dit moes nooit gebeur het nie. Hy het tyd gehad om te kalmeer na die oorspronklike stryery, maar hy het die oorledene verder by haar huis, haar plek van veiligheid, aangerand en doodgeskiet. Die samelewing is siek en sat vir hierdie tipe misdade en dit is die hof se plig om toepaslike vonnisse op te lê teen misdrywe van dié aard,” het landdros Pumela Yono tydens vonnisoplegging gesê.
Op die aanklag van poging tot moord is Biehl twee jaar tronkstraf opgelê. Vir die moord van October het Yono hom 18-jaar tronkstaf gegee en op die aanklag van poging tot moord het hy vyf jaar gekry.
Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.
Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
Lees 'n vorige artikel hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'