GEORGE NUUS - Die eienaar van Boston's Tavern in Parkdene, Eshwill Biehl, wat vir die koelbloedige moord van Jeanette October (58) in 2016 aangekla word, het verlede week self agter die getuiebank in die Thembalethu-streekhof ingeskuif.
October het oorkant Biehl se taverne in Saturnusstraat gewoon.
Volgens vorige getuies was hulle voor die skietaanval op 28 November 2016 in 'n argument buite die oorledene se huis betrokke. Biehl het dit in sy getuienis ontken en gesê die hele voorval het binne die huis plaasgevind.
"Ek was by my taverne toe sy my nader geroep het. Ons is in haar huis en sy wou R200 leen. Ek het geweier, want sy het nog nie die vorige lening terugbetaal nie. Toe het sy my geklap en gevloek en ek het haar weggestamp."
Volgens hom is hy daarna deur October se twee seuns en nog 'n man wat in die huis was, met 'n graaf en 'n panga toegetakel en met 'n mes in die sy gesteek. "Die houe het van oral gekom. Ek het net probeer om myself te beskerm," het hy gesê.
Dis toe dat hy die rewolwer uit die holster haal en waarskuwingskote in die huis afvuur. Twee van dié skote het October van agter getref en sy het op die toneel gesterf.
"Ek wou hulle net van my afkry. Ek het nie na 'n spesifieke persoon geskiet nie. Toe hulle ophou slaan, is ek by die voordeur uit en hulle by die agterdeur. Ek het nie die oorledene daar sien lê nie," het Biehl getuig.
"Die drie het buite agter my aangekom. Ek het een of twee skote in die grond geskiet om hulle weg te kry. My intensie was nooit om iemand te beseer nie," het hy aan die hof vertel. Hy het ontken dat daar 'n bakleiery voor die skietvoorval was.
"Ná die voorval het ek vir die polisie en die ambulans gewag," het Biehl getuig.
Ooggetuies verskil
Volgens ooggetuies was Biehl en October in 'n bakleiery betrokke vóór die skietvoorval in die huis plaasgevind het.
Een van die getuies, Waydene Jansen, het aan die hof gesê dat Biehl dronk was ten tyde van die voorval. Sy het ook getuig dat daar 'n konfrontasie buite die oorledene se huis was.
"Hy het my antie gevloek en buite die huis geraas en geskree. Hy het ons 'hongergatte' genoem en ander lelike goed kwytgeraak," het sy tydens haar getuienis gesê. Biehl is daarna deur een van die oorledene se seuns van die perseel verwyder.
"Hy het na sy kar gestap en 'n groot stok uitgehaal." Volgens Jansen het daar 'n bakleiery tussen Biehl, die oorledene en een van haar seuns uitgebreek. "Toe my tannie [die oorledene] die huis binnekom was haar oor halfpad losgeskeur. Sy het baie gebloei.
"Ek was nog besig om die bloed te stop toe ek hoor iemand sê: 'O Here, hier kom Eshwill met sy gun,'" het sy in haar getuienis gesê. Biehl het die huis binnegekom waarna sy geweerskote gehoor het. Sy het met haar kind onder die bed weggekruip toe sy die oorledene in die gang sien neersak.
"Ek het haar gevra of Eshwill haar geskiet het. Sy het "ja" gesê en gevra ek moet 'n ambulans bel.
Met polisie en nooddienste se aankoms was October reeds oorlede. Biehl is kort daarna in hegtenis geneem.
Weer in aanhouding
Biehl is 'n maand ná sy inhegtenisname op R10 000 borgtog vrygelaat. Sy borgtog is egter in Mei hierdie jaar teruggetrek omdat hy nie aan sy borgtogvoorwaardes voldoen het nie. Volgens inligting wat deur die George Herald ontvang is, bly Biehl reeds sedert Januarie 2017 by 'n familielid verbonde aan die Conville-polisiestasie, en nie in Mosselbaai soos sy borgtogvoorwaardes vereis nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'