GEORGE NUUS - Ontstoke inwoners van Jasmynstraat in George-sentraal eis antwoorde en optrede oor twee onbewoonde erwe wat oorgroei is met plante. Volgens hulle hou dit veiligheids- en gesondsheidsrisiko's in. Die eienaar van die erwe woon glo in Kaapstad.
Van die inwoners het aan die George Herald gesê hulle het dit al verskeie kere onder die aandag van die munisipaliteit gebring. So ver terug as Julie.
Mense slaap soms daar en die bosse lok ook peste soos rotte. "Dit lyk verskriklik," het een van die inwoners gesê. Hulle is te bang om hul kinders in die straat te laat speel.
Sean Snyman, stadsraadslid vir wyk 23, het gesê hy het self al die situasie onder die aandag van die munisipaliteit gebring en dit is nou uit sy hande. Die eienaar van die erwe is 14 dae kennis gegee om op te tree.
Volgens Snyman sal 'n kontrakteur dit gaan skoonmaak, maar dit is nie moontlik om aan te dui wanneer dit sal gebeur nie.
Snyman het daarop gewys dat erwe die verantwoordelikheid van die privaat eienaar(s) is en dat die inwoners dit ook met die eienaar self kon opgeneem het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'