GEORGE NUUS - Ná Pacaltsdorpers al jare lank kla oor groot vee, verál perde, wat in die strate rondloop, is twee perde in ernstige ongelukke oor die naweek doodgery. In een van die voorvalle is twee persone, waarvan een gehospitaliseer is, glo ernstig beseer.
Die eerste voorval het kort voor 23:00 in Hibiscusstraat plaasgevind.
‘n Botsingsverslag is deur die polisie geopen, maar volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is geen sake waarin perde betrokke was, aanhangig gemaak nie.
Die Tuinroete-DBV is na die toneel uitgeroep waar die perd, ‘n merrie, nog geleef het. Weens ‘n erg gebreekte been, moes die perd ongelukkig uitgesit word. Gerugte dat iemand op die toneel dood is, kon nie bevestig word nie.
Die tweede voorval het kort voor 01:00 Sondagoggend, 18 Junie, in Beachweg plaasgevind. Inligting rondom dié voorval is skraps omdat dit blyk asof dit nie by die polisie aangemeld is nie.
Volgens senior inspekteur van die DBV, Salomé Bruyns, was een voertuig betrokke en die perd is op die toneel dood.
Lees meer in Donderdag se George Herald en aanlyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’