GEORGE NUUS - "Ek verruil dit vir niks in die wêreld nie," het Jannie Stander, bekende boer van George Maandag 27 September gesê nadat hy die vorige dag die Erfenistoer voltooi het.
Hy en sy vrou, Amanda, was onder die talle deelnemers aan vanjaar se Erfenistoer wat verlede Donderdag, 23 September, in George begin het en Sondag klaargemaak het.
Die toer vind elke jaar onder die vaandel van die Suid-Kaap-oumotorklub (SKOMK) plaas en val saam met Toerismemaand.
Daar was vanjaar 23 voertuie met modelle vanaf 1929 tot 1980, plus 'n noodvoertuig.
Deelnemers het in heerlike sonskynweer uit George vertrek en toe koers gekies na Heidelberg, voordat daar Swellendam toe gemik is. Vandaar het hulle tot by Waenhuiskrans gery waar daar oornag is.
Erfenisdag is gevier met 'n roete wat Baardskeerdersbos, Gansbaai, Caledon, Franschhoek en Villiersdorp ingesluit het waarna deelnemers op Worcester oornag het.
Op 25 September is vanuit Worcester gery, verby Montagu, Barrydale en Calitzdorp voordat die dag in Oudtshoorn voltrek is met 'n uithangaand en prysuitdeling. Sondag het die groep na George teruggekeer via De Rust en Uniondale.
Van die voertuie wat aan vanjaar se Erfenistoer deelgeneem het .
Stander het gesê vanjaar was die sewende keer dat hy gery het. "Dit is goed beplan deur Pierre Olivier, die organiseerder en het plaasgevind in 'n mooi deel van die land."
Vanjaar het alles vir hom en Amanda goed afgeloop. Daar was geen probleme nie, behalwe vir twee pap wiele. Die rit was sowat 1 200 km.
Hy het sewe ou motors in sy versameling en die plan is om weer aanstaande jaar deel te neem. Hy het vanjaar met sy 1971 Chevrolet 2.5 gery.
Olivier het gesê vanjaar se geleentheid was 'n groot sukses en dit het sonder voorvalle verloop. Die finale datums vir volgende jaar sal later bekendgemaak word, maar dit sal waarskynlik weer rondom Erfenisdag wees.
Deelnemers vertrek uit George vir vanjaar se Erfenistoer. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'