GEORGE NUUS - Die George-raad het gister tydens ‘n geslote vergadering die groen lig gegee vir ‘n vroeë skeidingspakket aan die direkteur van gemeenskapsveiligheid, Steven Erasmus. Erasmus se kontrak sou later vanjaar tot ‘n einde loop.
Munisipale woordvoerder, Chantèl Edwards, het bevestig dat Erasmus die diens van die munisipaliteit verlaat met ‘n gesamentlike ooreenkoms.
VF Plus-raadslid Adv Gert van Niekerk het by navraag gesê hy het ‘n lang pad saam met Erasmus gestap en gun hom die welverdiende rus.
“Die direkteurspos van daardie direktoraat is geweldig stresvol. Ons wens hom die beste toe.” Van Niekerk het benadruk dat daar geen kriminele klagtes teen Erasmus is nie.
Hy het verwys na die situasie met die munisipale vloot wat vir maande reeds onklaar by ‘n plaaslike motorhandelaar staan. In vandeesweek se voorblad artikel vra PBI-raadslid Virgill Gericke vir ‘n ondersoek teen die direkteur van gemeenskapsveiligheid en vra die DA-koalisie om aanspreeklikheid te aanvaar.
Die munisipaliteit het vroeër bevestig dat ‘n ondersoek wel sal plaasvind. Van Niekerk het egter benadruk dat die probleem met die munisipale vloot reeds ‘n lang pad aankom.
“Om dit op die skouers van die nuwe koalisie [DA, VF Plus en ACDP] te pak dui op opportunisme en onkunde. Al die raadslede weet daardie voertuie staan al vir maande daar en is deur ons vanuit die vorige regime geërf. Na die verkiesing verlede jaar in November werk ons onverpoos om vele probleme aan te spreek,” het Van Niekerk gesê.
Nog kwessies
Edwards het by navraag gesê die bewerings teen die waarnemende munisipale bestuurder, Michele Gratz, en direkteur van gemeenskapsdienste, Allen Paulse, met betrekking tot onreëlmatige aanstellings, is van die hand gewys.
Dit volg na Good-raadslid, Donovan Saptoe, aantygings oor onregmatige aanstellings teenoor Gratz en Paulse gemaak het.
Saptoe het ook ‘n klag by die polisie teen Paulse gelê oor ‘n beweerde stemnota waarin hy en sy vrou glo deur Paulse gedreig is.
Edwards het bevestig dat daar besluit is om dié aantyging teen Paulse, met betrekking tot beweerde dreigemente teen raadslid Saptoe, te ondersoek.
Volgens ‘n betroubare bron het Saptoe se versoek dat die raad Paulse skors, gefaal. Paulse het vantevore gereageer op Saptoe se aantyging en gesê hy het nog nooit direk enige doodsdreigemente teen Saptoe of sy vrou gemaak nie.
Lees meer oor die storie: Saptoe lê klag by polisie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'