OUDTSHOORN NUUS - Nadat Riaan van Rensburg verlede jaar 'n motorskou by sy perseel by Dolphin Motors op Oudtshoorn gehou het, was die reaksie so goed dat hy volgende week 'n groter een aanbied.
"Die tydskrif SA Hotrod het my genader en gevra of Oudtshoorn nie meer motorgerigte geleenthede kan kry nie. Ek het toe besluit om sommer self een te reël en al perseel wat ek kon kry was my eie werkswinkel se parkeerarea, maar hierdie jaar gaan ons groot," sê Van Rensburg.
Hy verduidelik dat Langenhoven Gimnasium ingestem het om die geleentheid op een van hulle rugbyvelde aan te bied en ook hulle klubhuis beskikbaar te stel.
"Alle hekgelde en winste uit hulle klubhuis is die skool s'n, ons doen dit vir die pret en die passie," sê Van Rensburg.
Hy nooi almal uit om enige voertuig wat anders is te kom vertoon. "Of dit nou 'n muscle car, 'n veteraanmotor, 'n gepimpte ryding, veteraanmotorfiets of uitsonderlike ou trekker is, eintlik is enigiets wat dreun welkom. Ou masjiene soos Lister-enjins wat op een plek staan en raas is ook welkom."
Die Oudtshoorn-motorskou word op Saterdag 14 Desember vanaf 10:00 tot 18:00 op die B-veld van Langenhoven Gimnasium aangebied.
Toegang is R10 en buiten die kroeg by die klubhuis sal daar ook verskeie stalletjies wees. Entoesiaste wat hulle masjiene wil kom vertoon kan Riaan by 082 895 5723 kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'