Gallery Video
GEORGE NUUS - Die bekende sanger en liedjieskrywer, Elvis Blue van George, vertrek vanoggend, 1 Junie op ‘n fietsry-avontuur van 1 500 km na Mbombela, waar die Innibos Nasionale Kunstefees plaasvind.
Elvis saal hierdie wilde ysterperd op om fondse in te samel vir kinders se opvoeding. Sy fietstoer het amptelik om 07:30 aan die bo-punt van Yorkstraat begin. Elvis se skoolgeld-toer word deur Innibos Nasionale Kunstefees ondersteun.
“Ek weier om net rond te sit met die wete dat daar kinders is wat nie die potlode, penne, boeke of selfs skoene het om mee skool toe te gaan nie,” het hy vroeër oor hierdie inisiatief gesê.
“My hart raak ook seer wanneer ouers nie vir hulle kinders kan sorg nie, of wanneer 'n kind se omstandighede net onmoontlik lyk. Al kan ek net vir 'n paar doen wat ek wens ek vir duisende kon doen, dink ek dis nog steeds die moeite werd.”
FOTOGALERY: Elvis Blue ry fiets vir kinders
Hy samel geld in vir Life Community Services in George, die vertrekdorp van sy fietstoer, en die Daantjie Orphan Project in Mbombela, die dorp waar sy toer eindig. Beide organisasies spreek die fisiese en opvoedkundige behoeftes van minderbevoorregte kinders aan.
Elvis en sy vrou Chirezé Hoogendyk saam met hulle twee dogters, Lila (14) en Jua (11). Foto: Michelle Pienaar
Sakeondernemings en die publiek kan betrokke raak deur geld te skenk by https://atterburytrust.org/shop/elvis-ry-vir-skoolgeld/.
Wanneer jy jou Innibos-kaartjie by Ticketpro koop kan jy ook ‘n skenking maak, of op Elvis Blue se sosiale media platforms. Alle finansiële donasies sal via die Atterbury Trust vir liefdadigheid geoudit en behartig word.
VIDEO: Elvis Blue gesels oor sy skoolgeld-fietstoer wat vanoggend, 1 Junie, in George afskop. Hy is oppad na Nelspruit.
VIDEO: En.... hier gaan hulle! Video: Michelle Pienaar
Die toer sal na verwagting twee weke neem en die roete loop soos volg:
Date | From | Starting Point | To | Distance |
1 Junie | George | 7:30 AM Nuwe Elvis Brew op 131 York Straat | Uniondale | 111.4km |
2 Junie | Uniondale | 7:30 AM Police Station op Voortrekker Straat | Oppivlak | 103.5km |
3 Junie | Oppivlak Padstal | 7:30 AM Oppivlak Padstal Willowmore | Graaff- Reinett | 129.4km |
4 Junie | Graaff Reinett | 7:30 Spar 58 Caledon Spar | Middlelburg | 140km |
5 Junie | Middelburg | 7:30AM Spar op van Reenen Straat | Venterstad | 133.4km |
6 Junie | Venterstad | Oviston Primary School | Smithfield | 112.3km |
7 Junie | Smithfield | 9 AM Smithfield Golf Club | Hobhouse | 104.5km |
8 Junie | Hobhouse | 7:30 AM Hoek van Muller Straat en R26 | Ficksburg | 124.9km |
9 Junie | Ficksburg | 7:30 AM Ficksburg Superspar op 43 Voortrekker Spar | Bethlehem | 94.9km |
10 Junie | Bethlehem | 9 AM Spartan Spar op 26 Pretorius Straat | Vrede | 149.9km |
11 Junie | Af dag (Braai!!) | |||
12 Junie | Vrede | 7:30 AM Vrede Spar op 28 Kerk Straat | Morgenzon | 103.2km |
13 Junie | Morgenzon | 7:30 AM Morgenzon Landbou Akademie | Badplaas | 138.7km |
14 Junie | Badplaas | 7:30 AM Caltex Badplaas Filling Station. 1PM Aankoms van Elvis in Nelspruit – Suikerbossie Teetuin (ongeveer 5 km buite Nelspruit) op die R40 vanaf Barberton | Mbombela | 99.4km |
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’