GEORGE NUUS - Elroy Gelant (34), oorspronklik van Pacaltsdorp, kom Saterdag 14 Augustus huis toe. Hy woon en werk deesdae in Potchefstroom in die Noordwes-provinsie.
‘n Verwelkomingsgeleentheid gaan Saterdag vir hom by die George-lughawe gehou word.
Gelant het op Sondag 8 Augustus aan die Olimpiese Spele se marathon vir mans in Sapporo deelgeneem. Hy het 34ste uit ‘n totaal van 106 deelnemers klaargemaak en was die enigste Suid-Afrikaner wat enduit vasgebyt het tot by die eindstreep.
Groot opgewondenheid heers oor Gelant se besoek. Na verneem word is dit moontlik dat ‘n motoroptog deur die strate van die stad kan plaasvind.
Virgill Gericke, bekende gemeenskapsleier, is die organiseerder van die geleentheid en het vanoggend bevestig dat Gelant se vlug van Johannesburg na George kort na 09:00 behoort te land.
Volgens hom het George-burgemeester, Leon van Wyk, ook aangedui dat hy die geleentheid gaan bywoon. ‘n Verteenwoordiger van Atletiek Suid-Afrika en SWD-atletiek sal ook teenwoordig wees. “Dit is ‘n geleentheid om mense oor alle grense saam te bind.”
Gelant het gesê hy sien uit om bietjie huis toe te kom en te kom kuier. Hy sien dit ook as ‘n geleentheid om dankie te sê vir al die ondersteuning wat hy van George se mense ontvang het.
Gelant, wat op 25 Augustus sy 35ste verjaarsdag vier, se ouers Steven en Yvonne Gelant, woon steeds in Pacaltsdorp.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'