GEORGE NUUS - 'n Inwoner van Pacaltsdorp, wat krag by 'n huiswinkel in New Dawnpark koop, is vies oor 'n ekstra 50 sent wat die winkeleienaar vra vir elke kragaankoop.
"Dis die begin van 'n nuwe maand so ek wou net R10 se krag koop omdat ek mos my gratis eenhede ook gaan kry met 'n latere aankoop. Die persoon agter die toonbank het my 'n ekstra 50 sent laat betaal alvorens hy my wou help," sê Daniël Bezuidenhout in 'n brief aan die koerant.
Dit is ten spyte van die inligting wat onderaan elke strokie verskyn, naamlik: 'You may not be charged any fee except what's printed on this slip'.
"Vyftig sent klink miskien vir baie na niks, maar vir ander is dit 'n fortuin in die tyd waarin ons leef. Ons mense kry swaar en dan word hulle nog uitgebuit deur die winkels en niks word daaraan gedoen nie.
Hierdie tipe ding moet stopgesit word. Ek beweeg elke dag in hierdie gemeenskap rond en ek sien die swaarkry waardeur my mense gaan. En dan nog dit ook. Néé, genoeg is genoeg!" skryf Bezuidenhout.
Henry Mitchell, adjunk-direkteur van finansies het in reaksie gesê om ekstra fooie te vra saam met koopkrag is teenstrydig met die raad se beleid en onwettig. "Die saak geniet aandag. Besigheidseienaars wat hulle aan die gebruik skuldig maak, sal nie verder toegelaat word om krag te verkoop indien die gebruik nie gestaak word nie."
Mitchell het inwoners wat met die probleem te kampe kry, gevra om dit aan te meld by die finansiesdirektoraat by 044 801 9111/ 9177.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'