GEORGE NUUS - Daar is tans baie onduidelikheid oor die verspreiding en verskaffing van kos aan plaaslike minderbevoorregtes.
Na gesprekke met verskeie plaaslike departemente, blyk dit dat almal vir goedkeuring van hul nasionale departemente wag.
George se gemeenskap wou eie inisiatief neem en aan die werk spring om kospakkies op te maak, maar is gevra om eers te wag. Daar is ook verneem dat daar nog te min plaaslike NGO's en gemeenskapsorganisasies aangebied het om met die verskeie projekte te help. Daar is egter reeds verskeie individue wat die inisiatief geneem het om haweloses te help wat andersins sonder heenkome sou wees.
'n Sake-eienaar van Pacaltsdorp gaan 'n hawelose paartjie inneem en vir die 21 dae-inperking huisves; 'n inwoner van Schaapkopvallei in New Dawn Park, sê hulle help al 'n geruime tyd 'n hawelose, en soek nou 'n tent sodat hy op hul perseel kan woon vir die tyd vorentoe.
Die individue meen hulle het min, maar die persone het niks. "So as jy kan help, moet jy help." Pieter Nel, die koördineerder van die George Alert-span, sê hulle is genader om gereed te wees indien daar spanne nodig is om kos te help versprei of met die maak van kos. Wilmi Dippenaar, die direkteur van Seven Passes Initiative in Touwsranten, sê hulle gaan ook vanaf Vrydag 27 Maart, op algehele inperking wees.
Dippenaar sê hulle gaan kospakkies vir minderbevoorregte families in Touwsranten voorberei en dit sal by die kliniek beskikbaar wees.
"Die kospakkies gaan sewe basiese etes vir een week insluit. Daar gaan streng register gehou word van die families, wat net een pakkie per week gaan kry."
Sy sê hul personeel sal ongelukkig nie by die kantoor beskikbaar wees nie. Daar sal wel twee lede op bystand wees en kan gekontak word op WhatsApp by 076 476 5395 of
076 457 4349 vir ondersteuning. Vir meer besonderhede rakende Seven Passes Initiative, kontak Wilmi by 072 673 4346.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'