Maritz het met die lintknip-seremonie die span van menslike nedersettings, grondsake en beplanning, die raadslede betrokke in die proses asook die twee kontrakteurs betrokke, Andrew Burger van Golden Rewards en Randal Sauer van RK Sauer Construction bedank vir hul harde en goeie werk.
Hy het gesê as 'n mens in die gemeenskap rondbeweeg, ervaar jy die noodkreet vir behuising. "'n Huis beskerm teen wind en reën en is ook 'n belegging," het Maritz gesê.
Hilda Jack (58) wat al sedert 1997 op 'n waglys is vir 'n huis, was eerste om haar nuwe huis te ontvang. Jack was emosioneel toe sy, na jare van rondswerf, almal bedank het vir die huis. "Ek sal nooit my huis verkoop nie en hoop om dit vir my kinders agter te laat."
Anthony Engelbrecht en sy vrou, Jane, is die begunstigdes van die tweede skouhuis. "Na 20 jaar het die Here ons gebede verhoor. Ons is baie dankbaar vir raadslid Kleynhans." Marchell Kleynhans is die wyksraadslid vir Uniondale en portefeuljeraadslid vir maatskaplike en landelike ontwikkeling in die George-munisipaliteit.
Steven Erasmus, direkteur van menslike nedersettings, grondsake en beplanning, het gesê dié huis lyk baie beter as baie Gap-behuising wat hy al gesien het. Hy het gesê die standaard van die huis is puik. "George-munisipaliteit het wegbeweeg daarvan om net 'n huis te verskaf, en wil kwaliteit huise verskaf. Ons deel vandag in Uniondale se opwinding."
Die twee skouhuise ter waarde van R150 000 elk, is deel van 'n EPHP (Enhance Peoples Housing Process) behuisingsprojek wat bestaan uit 183 huise. Skouhuise is gebou volgens die nuwe minimum norme en standaarde van die provinsiale departement van menslike nedersettings.
Die bou van die twee tipes skouhuise is vanjaar op 5 Mei begin en is op 6 Junie voltooi.
Die een tipe skouhuis is met sementblokstene en die ander met maksi-kleisteen gebou. Albei huise is geteel, het 'n drupbak by alle krane, 'n 100 liter geiser en 'n kombuiskassie met 'n opwasbak. Die huis deur RK Sauer het ook 'n wastrog en 'n buite wasgoedlyn. Die huis deur Golden Rewards het geute en luggate met 'n stortverlenging.
Beide wonings bestaan uit twee slaapkamers, 'n toilet met 'n bad en gesigwasbak en 'n oopplan leefarea met 'n kombuis.

Die onderburgemeester van George, Daniel Maritz, knip die lint by die eerste huis wat oorhandig is by die nuwe Uniondale-behuisingsprojek. By hom is van links raadslid Michael Nyakati, Melvin Naik, portefeuljeraadslid vir siviele ingenieursdienste, Marchell Kleynhans, wyksraadslid vir Uniondale en portefeuljeraadslid vir maatskaplike en landelike ontwikkeling, Henry Jones, portefeuljeraadslid vir menslike nedersettings, mev. Hilda Jack, wat die huis in ontvangs geneem het, en mnr. Steven Erasmus.

Hilda Jack het emosioneel geraak gedurende die oorhandiging van die huis. By haar is raadslid Henry Jones (links) en raadslid Daniel Maritz.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'