Gallery
GEORGE NUUS - Leerders en onnies van Laerskool Hoekwil is super opgewonde oor hul 100ste gedenkjaar wat hierdie maand met 'n spesiale fees by die skool gevier word.
Die laerskool se eeufees vind op Saterdag 29 Oktober by hul skoolterrein plaas en die publiek word hartlik uitgenooi om in die pret te deel.
Toegang is gratis en verskeie verrassings wag op die kleingoed.
'n Onlangse besoek aan die skool het net weer bevestig waarom kinders so gaande is oor hierdie juweel op die berg: klein klassies, individuele aandag, blombakke en saailinge oral waar jy kyk en baie liefde.
Laerskool Hoekwil se agste skoolhoof, Flippie Grobbelaar, het in 2015 by die skool aangesluit en praat oor sy "kroos" met deernis. Hy vertel van hoe die skool destyds, in 1916, as Olifantshoek Primêr by die Vleie-kerk begin het.
"Die skoolgebou is in 1922 gebou en die skool het toe hierheen geskuif," het hy gesê.
FOTOGALERY: Laerskool Hoekwil vier eeufees
Grobbelaar het voorheen vir elf jaar as departementshoof by Laerskool Outeniqua in George gewerk.
"Die skuif na Laerskool Hoekwil was 'n groot uitdaging en 'n leerskool," het hy gesê. "Die feit dat dit so klein is, was iets om aan gewoond te raak. Die personeel is maar min, en doen alles self." Grobbelaar het vertel dat daar oor die laaste agt jaar baie aanbouings en uitbreidings by die skool gedoen is.
Op 'n vraag oor die hoogtepunt tydens sy betrokkenheid as hoof, was sy antwoord vining: "Die kinders! Hier is 'n kind nog kind, al het hulle selfone en al daai dingetjies." Hy praat ook met lof oor die bystand van die personeel en beheerliggame oor die jare heen.
Kunstige kinders
'n Onderwyser wat die afgelope 22 jaar by Laerskool Hoekwil skool gee, Alida Lubbe, het gesê die kinders wat daar skool gaan floreer in die kunste met dans, toneelspel en die skone kunste: "Die saad wat in hierdie kinders se minds gesaai word, in hierdie diverse gemeenskap, is dit wat my altyd sal by bly."
Nóg 'n onnie wat al 22 jaar lank vir Hoekwil se graad-eentjies skool hou, onderhoof Estelle Nel, het gesê sy het 'n enorme liefde vir die skool ontwikkel.
"Ek het die lekkerste werk in die skool. Hier is ek juffrou-mamma-ouma vir al my klasmaatjies. Toe ek jare terug hier begin het, het die skool baie verwaarloos gelyk. Dit was destyds 'n skok vir die sisteem. Jy moet onthou, ek was toe gewoond aan 'n skool in Johannesburg waar alles blink en nuut was. Toe gee een van die kinders vir my 'n versie uit die Bybel: 'Waar God jou nie wil hê nie, vat hy jou weg. Hier waar jy nou is, is waar jy moet wees.' Daardie woorde het in my hart gaan lê en vandaar af het alles sin gemaak."
Ronelle Kamfer, Nel se klasassistent, het gesê: "As daar 'n skool in die hemel is, is dit 'n skool soos Laerskool Hoekwil."
Brenda Goosen gee al die afgelope 18 jaar skool by Hoekwil, en reken die individuele aandag wat die kinders ontvang is ongekend: "Ons sien kinders raak, ons kan dadelik help. Die dubbelmedium [Afrikaans en Engels] wat hier gebruik word help die kinders ook met hul taalontwikkeling."
Sy koester 'n spesiale herinnering van 'n projek wat 'n destydse hoofdogter, Landon Crowther, van stapel gestuur het. George Herald het in 2015 daaroor berig en gemeenskappe regoor die George-gebied was aan die brei en hekel om Touwsranten se gemeenskap van kombersies vir die winter te voorsien.
Hoofde deur die jare
- CC de Bruyn: 1917 – 1948
- DC Uys: 1949 – 1958
- Gerrit Oosthuizen: 1959 – 1964
- Chris Heunis: 1965 – 1990
- Deon Truter: 1991 – 2004
- Danie Leonard: 2005 – 2008
- Herman du Plessis: 2009 – 2014
- Flippie Grobbelaar: 2015 – hede
CC de Bruyn: 1917 – 1948
DC Uys: 1949 – 1958
Gerrit Oosthuizen: 1959 – 1964
Chris Heunis: 1965 – 1990
Skoolhoof Deon Truter (1991 – 2004) saam met (van links) Alida Lubbe, Emily Theron en Estelle Nel.
Laerskool Hoekwil se skoolhoof, Flippie Grobbelaar, saam met die onderhoof, Estelle Nel, hoofdogter Michaela Pretorius (14) en hoofseun Lungako Makinana (13). Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'