Update
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Koster-inwoner wat op sy eentjie met 'n reuse-houtkruis groot dele van die land deurkruis, het verlede Donderdag in George oornag.
Patrick Styles, 'n afgetrede mynwerker, se ongewone 'bagasie' trek baie aandag oral waar hy kom.
Hy het die afgelope twee maande al 2 000 km afgelê. Ongeveer dieselfde afstand wag op pad huis toe. Hy mik tans vir Port Elizabeth, vanwaar hy binneland toe sal draai om via Colesberg sy terugtog af te lê.
Die stappery het drie jaar gelede begin nadat hy afgetree het. Hy stap gemiddeld 40 tot 50 km per dag wanneer hy op 'n tog is. "Ek doen dit vir die Here," verklaar hy. Gewoonlik beplan hy nie slaapplek vooruit nie, want hy oornag meestal by 'n plek wat rugsakstappers akkommodeer. In George het 'n goedgunstige inwoner wat hom langs pad teëgekom het, verblyf aangebied.
Tussendeur die staptogte rus hy vir so drie maande by die huis voor hy 'n volgende een aanpak. "Ek raak nie verveeld of ontmoedig langs die pad nie. Ek gesels met die Here en my gedagtes hou my besig," sê hy.
Hy het nog nooit onveilig gevoel nie, al stap hy soms op afgeleë paaie of in gevaarlike gebiede. Sy vrou, wat die fort op hul plaas hou, ondersteun hom heelhartig in sy stappery.
Die kruis, waarvan die onderpunt op twee wiele gemonteer is, saam met Styles se bagasie weeg ongeveer 65 kg, so opdraandes vat hy rus-rus.
Kyk 'n video hieronder:
Die naam van Jesus is op die kruis gegraveer en 'n vlaggie wat bo sy bondel bagasie uit wapper, verkondig ook sy naam.
Hy het 'n ander kruis gehad wat hy self gemaak het, maar hierdie een is spesiaal deur besigheidsmense van Welkom gemaak nadat hulle hom op 'n vorige tog in Paternoster teëgekom het.
Lees 'n vorige artikel: Stapper ná 2 000km in George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'