GEORGE NUUS - 'n Geliefde gr. 7-leerder van Laerskool Outeniqua, Duhan Lesch, is op Saterdag 7 Augustus oorlede na 'n jare lange stryd teen kanker. Duhan is in 2014 met neuroblastoma-kanker gediagnoseer.
Volgens sy ma, Monique, was die 13-jarige Duhan 'n kind wat altyd en in alle omstandighede geglimlag het.
"Dit maak nie saak hoe moeilik dit was of hoe swaar dit gegaan het nie. Hy was baie lewendig en wou alles doen. Hy was baie vrygewig en het altyd 'n grappie gehad. Hy het gehou van rugby, krieket, hokkie, visvang, draf en alles waarvan seuntjies hou," het sy gesê.
Sy sê hulle het vir drie jaar gedink Duhan is skoon, maar in 2019 was die kanker terug.
"Dit was 'n baie spesiale pad met liefde en omgee. Ons het geleer wat dit beteken om vertroue te hê en om nederig te wees. Ons pad was nie altyd lekker om te sien hoe ons seun seer het nie, maar al sy liefde het dit vir ons maklik gemaak om nooit op te gee nie," het Lesch gesê.
Outeniqua se hoof, dr. Nico Venter wat aan die begin van die jaar by die skool aangestel is, sê in die kort tydjie wat hy vir Duhan geken het, het sy positiwiteit en vriendelikheid 'n groot impak op hom gehad.
"Dit sal my altyd bybly. Hy het my self kom besoek en gesê hy kom terug skool toe. Hy wou die heeltyd sy skoolwerk gehad het om te doen. Sy verantwoordelikheidsin ten spyte van sy omstandighede was ongekend."
"Duhan laat die hele wêreld agter, want hy was 'n kind wat die hele wêreld aangeraak het," het sy ma gesê toe sy versoek is om sy familielede te noem wat hy agterlaat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'