GEORGE NUUS - Minstens 13 mans is sedert verlede week in Pacaltsdorp in hegtenis geneem vir ernstige aanranding en poging tot moord wat met bendegeweld verband hou. Die toename in geweld spruit glo voort uit 'n bakleiery tussen twee strydige bendes wat oor afsetgebied vir dwelms baklei.
Die area waaroor die bendes baklei sluit onder meer Jakaranda-; Cycad- en Rosestraat in. Sedert die begin van die maand is, sover die George Herald kon vasstel, twee persone ernstig beseer in aanvalle met kapmesse en ander skerp voorwerpe.
Volgens ingeligte bronne het die drama vroeër die maand ontvou nadat een van die mans uit een van die groepe van dwelms en kontant beroof is. Dit is gevolg deur 'n wraakaanval waartydens 'n man (24) van Jakarandastraat met kapmesse en bofbalstokke aangeval is. Hy is met ernstige hoofbeserings in die hospitaal opgeneem en is verlede naweek eers ontslaan.
Drie verdagtes, onderskeidelik 34, 25 en 28 jaar, is in verband met dié voorval in hegtenis geneem. Die verdagtes het verlede Vrydag op aanklagte van poging tot moord in die George-landdroshof verskyn. Hulle verskyn môre, Vrydag 19 Oktober, weer in die hof vir 'n formele borgtogaansoek.
In nog 'n voorval is 'n man (28) ernstig beseer nadat hy na bewering op 6 Oktober omstreeks 11:30 deur 'n groep mans in Sectionstraat, naby die Pienkwinkel, met pangas en skerp voorwerpe aangeval is. Sewe verdagtes is in verband met die voorval aangekeer. Die verdagtes het Maandag in die hof verskyn op aanklagte van ernstige aanranding. Hulle saak is uitgestel tot volgende Maandag, 22 Oktober, vir 'n formele borgtogaansoek.
Ingeligte bronne sê nog arrestasies kan volg en meer klagtes kan bygevoeg word soos die ondersoeke ontvou.
"Die groepe baklei oor drug turf, om hul dwelms te verkoop. Dagga is nou wettig, nou is dit die Mandrax en tik wat die meeste geld inbring. Nadat een van die groepe se dwelms afgevat is en die runner van kontant beroof is, is dit 'n heen en weer bakleiery helder oordag. Hulle val mekaar met gevaarlike wapens aan en bedoel om mekaar dood of baie seer te maak," vertel die bron.
Inwoners het ook hul kommer uitgespreek oor die groepe wat oop en bloot met kapmesse rondloop.
"Van die mans het hier in Pacaltsdorp groot geraak, nou is hulle skollies wat geen respek het nie. Die polisie het hulle hande die afgelope paar weke vol gehad met die bendes, maar het baie arrestasies gemaak en ek kan sê die area is rustiger sedert van die manne tronk toe is," het 'n inwoner van Rosestraat vertel.
Kapt. Lorraine Coetzee van die Pacaltsdorp-polisie het bevestig dat die polisie teen Dinsdag 13 verdagtes aangekeer het vir voorvalle wat spruit uit 'n bakleiery tussen twee groepe. "Die verdagtes het reeds in die hof verskyn waar hulle sake tot later vandeesweek en vroeg volgende week uitgestel is vir borgtogaansoeke."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'