TUINROETE NUUS - Twee vrouens van Oudtshoorn en nog vier insittendes van twee ander voertuie was Vrydagmiddag gelukkig om nie ernstige beserings tydens 'n botsing op te doen nie.
Die botsing waarby drie voertuie betrokke was, het om ongeveer 16:00 op die George-pad by die bekende pizzastalletjie naby Waboomskraal gebeur.
Twee joernaliste van George Herald se susterskoerant, Oudtshoorn Courant, wat vanaf George na Oudtshoorn onderweg was, het op die ongelukstoneel afgekom pas nadat die motors mekaar getref het.
Hulle het onmiddellik die polisie en nooddienste verwittig, hulp verleen aan een beseerde en die verkeer gereguleer totdat nooddienswerkers en lede van die polisie en verkeersafdeling opgedaag het.
Volgens die bestuurder van 'n VW Polo moes hy stilhou toe 'n BMW voor hom gestop het om regs by die padstalletjie in te draai. "Ek het gesien 'n Toyota kom van agter af, maar ek kon nie betyds padgee nie, toe slaan hy my reg van agter."
Die slag het die Polo in die pad van aankomende verkeer laat beland en dit is deur 'n Opel reg van voor getref.
Die beseerde vrou word deur paramedici op 'n draagbaar geplaas.
Die insittendes van die Polo en die Opel het geen beserings opgedoen nie, maar die passasier in die Toyota Tazz het 'n kopwond opgedoen en haar nek beseer. Sy is op die toneel deur paramedici behandel en na die George-hospitaal geneem. Sy is Saterdag ontslaan.
Die bestuurder van die Tazz het op die toneel gesê sy en die beseerde was vanaf 'n begrafnis op pad terug Oudtshoorn toe. "Ek het te laat besef die motor voor my staan stil, ek het probeer rem, maar dit was te laat."
Die man en vrou in die Opel was vanaf Pretoria na hulle vakansiebestemming onderweg toe die botsing plaasgevind het.
Die remmerke van die Opel op die toneel waar dit die Polo getref het.
Foto: Liezl van Niekerk
Die skade aan die Opel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'