Update
GEORGE NUUS - Drie verdagtes van Blanco, wat in hegtenis geneem is ná 'n video van 'n beweerde aanranding in 'n motor verlede week op sosiale media soos 'n veldbrand versprei het, het vlugtig op Maandag 18 Januarie in die George-landdroshof verskyn.
Al drie is op Woensdag 20 Januarie, op R500 borgtog vrygelaat en is geskeduleer om weer op 30 Maart in die hof te verskyn.
Juanita Maritz (47), haar dogter, Jessnique Jansen (26), en die man wat na bewering die voertuig bestuur het, Gabrin Giewelaar (37), staan tereg op aanklagte van ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die trio is op Donderdag 14 Januarie in hegtenis geneem ná die video twee dae tevore op Facebook en WhatsApp begin sirkuleer het.
Die video
In die video kan gesien word hoe een vrou 'n ander agter in 'n bewegende voertuig aanrand en met 'n mes steek terwyl sy die slagoffer (46) aan die hare beet het.
Die aanranding spruit uit 'n beweerde buite-egtelike verhouding tussen die slagoffer en haar aanvaller se man. Verskeie bronne wat met George Herald gepraat het, het egter ontken dat die slagoffer enigsins 'n verhouding met die man gehad het. In die video kan ook gehoor word hoe die slagoffer die aantygings pertinent ontken.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, word beweer dat die slagoffer op Maandag 4 Januarie tussen 15:30 en 16:00 onder valse voorwendsels deur die verdagtes by haar werkplek in die Geelhoutboom-omgewing opgetel is.
"Toe die slagoffer in die motor klim, het die vroulike verdagte en haar dogter haar na bewering gekonfronteer waarna sy met 'n mes aangerand is. Die slagoffer het steekwonde aan haar arm, been en skouer opgedoen," sê Pojie.
Vorige artikel: Three in court after video goes viral
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'