GEORGE NEWS - Adrenalienverslaafdes kan met 'n tandem-valskermsprong bydra tot 'n fondsinsamelingsveldtog vir Tuiniqua-versorgingsentrum se eenheid vir verswakte seniors.
Die veldtog begin komende Woensdag, 19 Maart, en duur tot 19 April.
Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word vir belangrike opgraderings by die eenheid vir verswaktes.
"Ons nooi die publiek uit om ons veldtog te ondersteun. Tuiniqua kyk na verskeie maniere om broodnodige geld vir die sentrum in te samel en hierdie is 'n wonderlike geleentheid vir ons om voordeel te trek uit mense se liefde vir avontuur," sê Tuiniqua se bestuurder, Alani Voigt.
"Baie dankie aan Skydive Mossel Bay vir hulle vrygewigheid. Uit die R5 000-fooi wat hulle ontvang vir 'n tandemsprong, skenk hulle R1 000 aan Tuiniqua."
Deelnemers word gevlieg tot op 10 000 voet en kan asemrowende uitsigte oor die Outeniquaberge en die pragtige Tuinroete-kuslyn geniet voordat hulle spring.
Vir die eerste 35-40 sekondes ervaar die springer vryval teen 220km/h. Sodra die valskerm oopgaan, verloop die res van die sprong stadig en kan 'n mens onvergeetlike uitsigte vanaf ongeveer 4 000 voet bo die grond geniet.
Deelnemers sal 'n video, foto's en sertifikaat van hul tandemsprong ontvang.
Gebruik die verwysing 'Tuiniqua' wanneer jy jou sprong bespreek by 082 824 8599 of info@skydivemosselbay.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’