GEORGE NUUS - Mense wat al deur 'n egskeiding moes gaan, sal weet dit is nie maklik nie.
Om mense te help met die emosionele trauma van egskeiding en vervreemding word 'n kursus, DivorceCare aangebied. Dis 'n weeklikse seminaar/ondersteuningsgroep wat help om die trauma te hanteer.
"DivorceCare sal u lewe verander en u die nodige kennis gee om weer hoop te vind en genesing te ervaar," het Marianne Schwartz een van die fasiliteerders gesê.
"Dit is 'n veilige, omgee-omgewing wat aangebied word deur fasiliteerders wat verstaan waardeur geskeide persone gaan. Die DivorceCare-kursus begin met 'n inligting en registrasie-aand op Dinsdag 8 Februarie om 18:30 - 20:30."
Die registrasiefooi is R250, wat die DivorceCare-werkboek insluit. "Persone wat deur 'n egskeiding gaan, vervreemd is of in 'n gebroke verhouding is, word uitgenooi om hierdie kursus by te woon."
Volgens Schwartz bestaan die kursus uit 13 onderwerpe. Dit sluit onder andere in hoe om woede, eensaamheid, hartseer, depressie, konflik, finansiële en regskwessies te hanteer.
Sy het Maandag gesê dis 'n jaarlikse geleentheid. Dit is in 2020 en 2021 aangebied. In 2020 het dit in Maart begin en moes onderbreek word as gevolg van die streng inperkingstappe. Aanpassings moes gemaak word en dit is in Augustus van daardie jaar hervat.
Vir meer inligting en om te registreer, kontak Schwartz by 072 923 3383 of Soteria-gemeente by 044 874 1842. Aanlyn besprekings kan ook gedoen word by www.divorce.org onder "Soek 'n groep".
As gevolg van Covid-regulasies en -beperkings, is beperkte plekke beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'