GEORGE NUUS - Brandbestryders van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het nie gehuiwer om verlede week hul kollegas in die Overstrand-gebied te hulp te snel nie.
Die brande het groot skade aangerig en ses brandbestryders, 'n watertrok en 'n bakkie met brandweertoerusting is van George na die gebied ontplooi om te gaan help. Dit is deur Herman Pieters, woordvoerder van die distriksmunisipaliteit, bevestig.
Hulle is verlede week na die gebied, nadat 'n versoek vir hulp ontvang is en het Dinsdag na George teruggekeer.
Volgens Pieters het hulle in die noordelike dele van Hermanus en die Hemel en Aarde-vallei gehelp.
Dit was nie die eerste keer dat brandbestryders van die munisipaliteit op ander plekke gaan help het nie.
Brandbestryders van ander munisipaliteite het verlede jaar ook in George kom help toe brande hier gewoed het.
Saterdag het Deon Stoffels, wat deel was van die span, die munisipaliteit laat weet dat dit die dag redelik kalm was. Daar is reeds van die oggend 07:00 af gewerk.
Teen 15:00 het die wind sterker begin waai. In daardie stadium was daar 'n opvlamming noordwes van die Hemel en Aarde-vallei. Dit het in 'n stadium buite beheer geraak en in verskillende rigtings versprei.
Vir drie ure moes die brandbestryders bontstaan om die vure te blus en van die huise af weg te hou. Die brandbestryders is bygestaan deur die weermag en die organisasie, Working on Fire (WoF). Dit het gehelp dat die brand onder beheer gebring kon word en om strukture te beveilig. Die pogings was in samewerking met die brandweerdienste van die Kaapse Wynland en Overstrand-munisipaliteite.
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê hy is trots op die span. "Ons is dankbaar dat hulle gaan help het."
Volgens hom help munisipaliteite in die Wes-Kaap mekaar in sulke noodsituasies. Dit vind op alle vlakke plaas.
n Clive Africa, hoof van gemeenskapsdienste van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê 'n werksessie sal einde Februarie oor die brande gehou word. Dit sal onder die vaandel van die munisipaliteit plaasvind.
Die Knysna-brande in 2017 en ook die brande in George en ander dele van die streek in 2018, sal bespreek word.
'n Volhoubare gebeurlikheidsplan sal opgestel en oorweeg word.
Volgens hom gaan die ondersoek, om die oorsaak van die brande in George en die streek verlede jaar te bepaal, voort.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'