GEORGE NUUS - Hy sou meer gemaklik gewees het as die jaarlikse tariefverhogings wat verlede week in werking getree het, laer was. Dit was die boodskap van Leon van Wyk, die burgemeester, oor die nuwe tariefverhogings van tussen 5% en 6,5% wat verlede week deur die stadsraad aanvaar is.
Van Wyk, bygestaan deur van sy kollegas in die stadsraad en senior amptenare, het in 'n e-vergadering met George Herald perspektief probeer gee oor hoekom belastingbetalers nou meer moet opdok.
Tydens verlede week se raadsvergadering is kommer uitgespreek oor die tariefverhogings.
Van Wyk het aan George Herald gesê dit sou in 'n mate bietjie roekeloos gewees het as stygings net 4% was. Die verskil tussen 4% en 6% sou beteken dat die munisipaliteit R30 miljoen moes terugsny.
Gestel die stygingskoers is met 1% laer ingestel, sou dit beteken dat die munisipaliteit R14 miljoen minder het. As dit nie eweredig versprei word nie, sou dit beteken dat departemente moet sluit.
Die munisipaliteit se adviseurs het aangedui dat R80 miljoen of R81 miljoen se uitgawes teruggesny moet word. Dit kan later dalk blyk dat dit selfs R100 miljoen moet wees.
Mense weet nie hoe lank die huidige situasie gaan voortduur nie en die werklike impak sal eers later duidelik wees.
Na raming sal 5 000 mense in George hul werk verloor. Dit is mense wat op een of ander wyse van munisipale dienste gebruik maak.
Van Wyk het benadruk hy het begrip vir mense se vrae oor die stygings. "Ons besef die styging raak mense se sakke."
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies, het gesê die munisipaliteit moet dienste sewe dae per week en 24 uur per dag lewer. Die munisipaliteit het 'n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap om dit na te kom en kyk voortdurend hoe uitgawes gesny kan word.
Leon Wallace, waarnemende direkteur finansiële dienste, het gesê as gekyk word na omliggende dorpe is George se verhogings in lyn. Mense wat sukkel om hul verpligtinge na te kom, moet met die munisipaliteit reëlings tref.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'