Volgens eienaar Deon Mocke het die mark op Oujaarsdag letterlik uit sy nate gebars. "En ek het die beste nóg gedoen by my koffiestalletjie," sê sy vrou, Kobie.
Kobie is ook die tuinier van die mark en sê sy verlustig haar gedurende die week in die uitbreiding en versorging van die pragtige beddings, bome en struike wat reeds die mark verfraai.
Sommige stalletjiehouers meen die bywoning van die mark op vakansiedae was nie vir hulle heeltemal lonend nie en hulle hoop om die voortsetting daarvan met die eienaars te onderhandel. "Maar Saterdag is duidelik mense se markdag en ’n uitstekende dag vir besigheid," was die mening van Bennie Niemand wat onder andere pap met kaiings aanbied vir "nostalgiese plaaskinders".
Dit is opmerklik hoeveel markgangers hul troeteldiere saambring vir die uitstappie. Heelwat honde aan leibande het rustig saamgedrentel, en selfs twee katte met kleertjies en sonbrille het die mark vanuit hul babawaentjie geniet.

Gaynor Young (links) se Perdita het die mark in "ma" se arms geniet, en haar vriendin, B Royce se Rainbow het hom net so mooi gedra.

Honde aan leibande het rustig saamgedrentel en niemand gesteur nie.
ARTIKEL: MANDI BOTHA, GEORGE HERALD-REDAKTEUR