Die toerorganiseerder, mnr. B.A. Schoeman sê dit was 'n groot uitdaging, maar met die hulp van die personeel, ouers, die beheerliggaam, die Cape Town School Tour-organisasie en die borge het 'n droom desondanks die gemeenskap se sosio-ekonomiese omstandighede 'n realiteit geword.
"Die skool se beweegrede vir die toer was om te help met die holistiese ontwikkeling van die kind, om kennis en vaardighede te ervaar wat in lyn is met hul kurrikulum, hul verwysingsraamwerk te verbreed en hul te bemagtig sodat hulle hulself as landsburgers kan uitdruk in 'n uitdagende, demokratiese gemeenskap in Suid-Afrika," sê Schoeman.
Die toer, wat oor vier dae plaasgevind het, het besoeke aan Tafelberg, die Parlement, Robbeneiland, V&A Waterfront Akwarium, Signal Hill, Walvisfees op Hermanus, Canal Walk, Grand West Casino, Kompanjiestuine, en 'n begeleide toer deur geskiedkundige plekke en nuwe ontwikkelings in Kaapstad.
"Met ons aankoms in Kaapstad was die verbasing en opgewondenheid op die kinders se gesigte 'n prentjie wat nie met enige geld gekoop kan word nie.
"Vir die tydsduur van ons verblyf het Cape Town School Tours gesorg dat ons in 'n goed versorgde studente huisvesting in Seepunt gehuisves word," sê Schoeman.
Die toer was ook 'n goeie geleentheid vir die kinders om hul dagboekinskrywings te voltooi. Die leerders het elke dag hul ervarings en waarnemings in hul notaboekies neergestip en dit saans volledig in hul dagboekies ingeskryf.
Die skool wil graag mnr. Derrick Miller van LGS Gardening bedank vir sy skenking van gholfhemde aan die leerders en Pep Stores vir die afslag met die aankoop van die toerbaadjies. Dit het gesorg dat al die kinders eenvormig lyk met hul besoeke aan al die wonderlike plekke in die stad.
"Ons bring al die lof die eer en aanbidding aan ons hemelse Vader wat ons deur die toer gelei het en bedank in besonder die onderstaande borge wat ons finansieel ondersteun het: Lionel Fortuin, Ruben Barnard, John Coleman, Ruben Briesies, Cynthia Fisher, Owen Gelderbloem, Matthew Frans, AGS Groot-Brakrivier en Progress Rugbyklub.

Mev. R. Fisher in ekstase om in haar laaste jaar in die onderwys 'n bootrit by V&A Waterfront met die leerders mee te maak.

Dié oorsese toeriste was gaande oor Diepkloof se leerders wat hulle op Tafelberg raakgeloop het.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'