GEORGE NUUS - 'n Dag voor tussenverkiesingsdag, verlede Dinsdag, tydens die uitreik van spesiale stemme, begin dit gons op sosiale media oor 'n beweerde voorval waarby 'n beampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) betrek word.
Volgens die riemtelegram is spesiale stembriewe deur die OVK-beampte in 'n DA-voertuig geplaas, wat op daardie stadium deur die DA-kandidaat vir wyk 27 beman was.
In 'n gesprek met die provinsiale woordvoerder van die OVK, Courtney Sampson, blyk dit egter dat die mini-drama te wyte is aan 'n oordeelsfout wat wel deur die kommissie aangespreek is.
"Die adjunk-voorsittende beampte wat die statistieke deurstuur het tydens 'n spesiale stem by 'n huis gewag vir die prosedures om afgehandel te word.
Hy is bevriend met 'n DA-lid en het vir 'n wyle in sy motor gesit," het Sampson gesê.
"Die spesiale stembriewe was nog in die huis met die polisie en die voorsittende beampte, waar die spesiale stemmery plaasgevind het. Geen spesiale stemme was in 'n DA-motor nie. Die beampte het glad nie 'n slegte intensie gehad nie, maar in 'n verkiesingsituasie is dit onaanvaarbare gedrag van 'n beampte van die OVK.
"Hy het nie op verkiesingsdag gewerk nie, ons het hom vervang. Die beampte, tesame met die voorsittende beampte en die polisieman, het beëdigde verklarings rakende die voorval afgelê."
Sampson het gesê sover dit die OVK betref is die kwessie aangespreek en opgelos. "Ons het dit op die dag met die party-agente afgehandel," het hy gesê. "Wat ander hindernisse betref is alles plaaslik aangespreek en het klagtes ons nie eens bereik nie. Dinge was maar baie stil. Geen klagtes is op provinsiale vlak ontvang nie."
Courtney Sampson, provinsiale woordvoerder van die OVK. Foto: Michelle Pienaar
Riglyne en pandemie
Wat die res van die verkiesing betref reken Sampson dinge het oor die algemeen operasioneel en logisties goed verloop.
"Ons het goeie same-werking van ons personeel en kiesers gekry, rondom die pandemie se riglyne. Sosiale afstand is gehou en sanitering het plaasgevind. Niemand is toegelaat om sonder 'n masker te stem nie."
Sampson het gesê daar was 'n bekommernis oor die saamdromming van mense by die politieke partye se tafels, maar dat dit buite die OVK se sfeer van invloed geval het.
Op 'n vraag oor die lae stempersentasie (onder 50%), het Sampson gesê dit is te wagte tydens 'n tussenverkiesing. Volgens Gert van Niekerk van die VF Plus het 'n groot hoeveelheid inwoners nie oor 'n ID beskik nie, en kon dus nie stem nie.
Sampson het gesê die OVK kry gewoonlik baie goeie samewerking van die departement van binnelandse sake, maar dat daar nie van hulle verwag kan word om spesiale reëlings vir tussenverkiesings te tref nie:
"Dit is darem ook die SA burgers se verantwoordelikheid om seker te maak hulle beskik oor 'n ID."
''Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'