Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hannes Visser beskryf homself as lojaal, vreemd en gatkrapperig, maar vir my, is hy net ons pa. Ons liefdevolle, ondersteunende, wonderlike pa. En hy verstom my elke dag… daarom was dit geen verrassing toe hy verlede jaar die nuus kry dat sy debuutdigbundel nie meer net 'n droom is nie.
'Die jaar toe pa…' is deur Naledi uitgegee en het in April vanjaar die lig gesien.
Die bundel is 'n versameling van 64 gedigte waarin Visser (redakteur van George Herald se susterskoerant in Oudtshoorn, die Oudtshoorn Courant) die storie van sy grootwordjare in 'n disfunksionele huis vertel. Die jaar was 1967 en hy was 10 jaar oud.
Hoewel ek en my jonger broer, Anton, lankal van sy gedigte ken, was dit vir my spesifiek 'n emosionele ervaring om al 64 gedigte, wat chronologies op mekaar volg, saam in die bundel te lees.
Van die gedigte is rou en maak seer, ander weer lig en snaaks, maar elkeen het my beter laat verstaan waar ek vandaan kom en hoekom my pa die man, en die pa is wat hy vandag is – 'n pa wat vir sy kinders berge sal versit.
Marisca (Rain) Visagie en Hannes Visser by die bekendstelling van ‘Die Jaar toe pa…’ by die George-museum. Foto: Tanya Watson
Bekendstellings
Na sy eerste bekendstelling op Oudtshoorn 'n reusesukses was, het Visser die afgelope week twee bekendstellings van Die jaar toe pa… in George gehou.
Die eerste, by die George-museum verlede Donderdag, was 'n heerlike aand met musiek en sang deur Marisca (Rain) Visagie.
Daar was emosionele oomblikke tydens sy voorlesings, baie snaakse oomblikke ook.
Die gehoor – vriende, kollegas, oudkollegas en bekendes – het soms gelê soos hul lag, en op tye na hul asem gesnak en 'n traan of twee weggevee. Almal was dit eens dat dit 'n uiters geslaagde aand was, ek natuurlik ook.
Twee dae later, is 'n intieme voorlesing by die George-biblioteek gehou. Hoewel daar hierdie keer 'n baie klein 'gehoor' was, was dit 'n spesiale oggend waar dié met 'n liefde vir skryf en die digkuns, die geleentheid gehad het om Visser se werk, en Visser as mens, op 'n meer persoonlike vlak te leer ken.
Hannes Visser en Elmine Vorster van die George-biblioteek voor sy bekendstelling en voorlesing by die biblioteek. Foto: Tanya Watson
Die pad vorentoe
Visser beplan nog verskeie bekendstellings in die streek. Die volgende een is komende Vrydagaand by die Monroe-teater op Mosselbaai. Hy sal Saterdagmiddag in Prins Albert wees. Daar is volgende week 'n bekendstelling in Stellenbosch en op 8 Junie is hy in Bloemfontein.
Visser werk ook tussendeur aan sy eerste roman en 'n nuwe bundel.
Kyk 'n video hieronder.
Hannes en sy kinders, Anton en Tanya. Foto: Visser-selfie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'