Hierdie pyp is ook bekend as 'n Hubbly Bubbly, waterpyp, Narghile, Shisha, Goza of Hub, wat gewoonlik gerook word tydens gesellighede of waar mense saamkuier. Volgens die kankervereniging is dit egter bewys dat die gereelde rook van 'n hookah tot ernstige longskade, hartsiektes, kanker, tuberkulose, herpes en selfs vroeë dood kan lei.
Die feit dat die hookah meestal gedeel word en meer as een persoon dus dieselfde pyp rook, veroorsaak dat siektes ook makliker oorgedra word.
Het jy geweet?
- Die soet reuk en smaak van die tabak wat gebruik word, moedig mense meer aan om te rook – mense wat andersins nie sou rook nie;
- Die rook van 'n hookah is veral nadelig vir jong kinders, omdat hul longe nog ontwikkel. Rook kan permanente skade veroorsaak;
- Dit is nie 'n veilige alternatief vir die rook van sigarette nie;
- Nadat die rook deur die water beweeg het, bevat dit steeds hoë vlakke van giftige stowwe;
- Bronne van hitte soos houtskool wat algemeen gebruik word, verhoog waarskynlik die gesondheidsrisiko. Die verbranding daarvan produseer gifstowwe;
- Tweedehandse rook van hookahs is 'n mengsel van tabakrook en die rook van die houtskool;
- Die rook van 'n hookah tydens swangerskap kan 'n ongebore baba se groei belemmer.
*Vir meer inligting oor die Hookah pyp, skakel Kansa se tolvrye nommer by 0800 22 66 22.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'