GEORGE NUUS - Op die oog af lyk Shiba soos 'n doodgewone hond met vier bene, maar was dit nie vir Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) wat altyd die ekstra myl loop vir die vierpotiges, George Small Animal Hospital en die Panorama Veterinary Clinic and Specialist Centre in Kaapstad nie, sou Shiba dalk nie vandag sy stert geswaai het nie.
Vroeër vanjaar, terwyl die span van Odin klagtes in Blanco ondersoek het, het Shiba se eienaars hulle genader om na hulle geliefde hond se been te kom kyk.
Hy kon nie op sy poot trap nie en was duidelik in baie pyn. Hulle het vermoed hy is deur 'n voertuig getref of met iets geslaan.
Die tandmerke aan sy linker-voorbeen het egter daarop gedui dat Shiba deur 'n ander hond aangeval is.
Odin se Marlene Mennie het dadelik vir Shiba na Eden Small Animal Hospital toe geneem waar X-strale 'n ernstige breuk aan Shiba se been bevestig het.
"Sy been was morsaf. Hy was in ontsettende pyn," sê Mennie.
Met verdere ondersoek het dr. Emelia Crause gevind dat Shiba 'n spesialisoperasie sal moet ondergaan om sy been met metaalpenne te heg. Sy het Panorama genader vir hulp, maar Shiba se eienaars was nie finansieel in staat om vir die operasie te betaal nie - al het hulle dit teen helfte van die prys aangebied.
Maar diereliefhebbers van George en regoor die land, het weereens gewys waartoe hulle in staat is en met die hulp van donasies, kon Odin reël dat Shiba die nodige hulp kry.
"Dit was 'n lang pad met Shiba in die kar, maar ek en Patrick het hom veilig in die Kaap gekry. Sy operasie was kompleks, maar dit was 'n sukses," sê Mennie.
Shiba in dr. Peter Guy se arms met sy aankoms by die Panorama-dierekliniek.
Shiba is nou in die hokke by Odin om heeltemal te herstel voor hy mag huis toe gaan.
"Sy pyn is onder beheer, en hy is op antibiotika om infeksie te voorkom.
"Met tyd, geduld en liefde sal hy binnekort weer op vier bene wees, gereed om te hardloop. Baie dankie aan dr. Peter Guy van Panorama wat Shiba 'n kans op 'n normale lewe gegee het," sê Mennie."
LINKS: Shiba in dr. Peter Guy se arms met sy aankoms by die Panorama-dierekliniek.
Die pen wat ingeplant is om Shiba se been te heg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’