GEORGE NUUS - Die 80-jarige vrou wat Dinsdagoggend, 9 Julie, in 'n motorongeluk op die R102 (lughawepad) betrokke was, is uit die hospitaal ontslaan en sterk nou tuis aan.
Sy het matige beserings tydens die ongeluk, waarin 'n Isuzu-bakkie haar motor van agter getref het, opgedoen.
Oorspronklike inligting wat deur die George Herald ontvang is, het daarop gedui dat beide voertuie vanaf George in die rigting van die lughawe onderweg was, maar volgens 'n familievriend van die vrou, is dit nie korrek nie.
"Die dame het haar dogter by die lughawe afgelaai en was op pad Barnyard Kennels toe om haar hondjie daar af te gee toe die Isuzu-bakkie haar van agter tref.
Albei voertuie was vanaf die lughawe onderweg na George," het die familievriend, wat verkies om anoniem te bly, aan die George Herald gesê.
Die bejaarde vrou is deur ER24-paramedici na Mediclinic George geneem.
Die twee persone wat in die bakkie was, is na die George-hospitaal geneem.
Die bestuurder van die bakkie het slegs geringe beserings opgedoen, terwyl sy passasier met matige beserings gehospitaliseer is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'