Update
GEORGE NUUS - Die brawe jong Dejané de Bruin (12) veg nog verbete nadat sy beweging in haar bene verloor het weens die seldsame siekte, transverse myelitis (TM).
TM is 'n neurologiese toestand wat wêreld-wyd sowat 1 400 mense per jaar affekteer.
Dejané is op 1 November 2022 daarmee gediagnoseer, nadat sy op 28 Oktober beheer oor haar bene verloor het.
"Sy het buite gespeel, ingekom en gekla van rugpyn. Sy het op die bed gaan lê, aandete kom eet en gaan stort, toe sak sy inmekaar en kon nie loop nie," vertel haar ma, Delanie.
Delanie en haar man, Jacques, het hul enigste dogter dadelik ongevalle toe geneem waar onder andere bloedtoetse, 'n lendesteek en X-strale, gedoen is.
Aanvanklik is sy met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer, maar 'n tweede MRB-skandering (MRI) het getoon dat sy aan TM ly.
Sy is op 18 Januarie vanjaar uit die Aurora rehabilitasiehospitaal in Gqeberha ontslaan ná sy aan die einde van verlede jaar opgeneem is.
"Ongelukkig is daar nog geen beweging in haar bene nie, maar haar vordering was uitstekend," sê haar ma.
Terug in George sal sy nog fisio- en arbeidsterapie ondergaan totdat daar beweging is.
"Ons kort nog 'n paar goedjies vir haar by die huis en haar herstel is 'n lang pad. Dejané is steeds van die heupe af ondertoe verlam en gebruik doeke en selfkateterisasie. Sy sal in hierdie stadium met tuisonderrig begin. Ons samel fondse in om die pad vorentoe vir haar 'n bietjie makliker te maak om al die toerusting te koop (stortbank, stortgryprelings, toiletrelings, selfaangedrewe kommode, toiletsitplek verhoog, ens.) wat ons nodig het vir haar en om die rekeninge te betaal wat nie deur mediese fonds gedek word nie," vertel haar ma.
Meer oor transverse myelitis (TM)
Die toestand word veroorsaak deur inflam-masie van die rugmurg wat die miëlienskede, die bedekking rondom die senuweeselle in jou rugmurg beskadig. Dit onderbreek die seine tussen die spinale senuwees en die res van die liggaam en kan lei tot verlies van sensasie, beweging en blaasbeheer.
Dejané is reeds van haar heupe af ondertoe verlam en is onlangs na die Aurora-rehabilitasiehospitaal in Gqeberha oorgeplaas waar sy verbete veg teen dié baie seldsame siekte.
Sowat 'n derde van mense wat met TM gediagnoseer word herstel, máár dit kan maande tot jare neem.
Dejané de Bruin het alle beweging in haar bene verloor weens die seldsame siekte, transverse myelitis (TM).
BackaBuddy
'n Familievriend van die De Bruins, Angelique Botha, het vir Dejané 'n BackaBuddy-rekening oopgemaak met die doel om die kostes wat nie deur die medies gedek word nie, te kan verhaal.
"Daar is nog 'n lang, moeilike pad wat vir Dejané en haar ouers voorlê. Die medies is maar soms moeilik en daar is baie items en rekeninge wat nie ten volle gedek word nie. Ons het dus vir hulle 'n BackaBuddy-rekening oopgemaak om te help om die pad vorentoe 'n bietjie makliker te maak," sê Botha.
Enigiemand wat wil bydra is welkom om dié skakel bit.ly/3gFe2bD, te volg.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'