GEORGE NUUS - Misdadigers het nie voorkeure nie. Dit het Vanessa Lucas, 'n Tuinroete DBV-veldoffisier, agtergekom ná sy Maandagmiddag in Spandielstraat, in Borcherds, beroof is. Lucas was in die omgewing vir sterilisasies.
Met haar vertrek het 'n man haar na bewering probeer help om uit die parkeerplek te ry aangesien die hoë agterkantflap die bestuurder se sig in die truspieëls beperk.
Volgens Wendy Jones, 'n DBV-vrywilliger, het Lucas vertel hoe iemand skielik vir haar gesê het om te stop omdat sy 'n persoon raakgery het. Volgens Lucas het sy geen slag gehoor of gevoel nie en uit die voertuig geklim om ondersoek in te stel.
"Die man het opgestaan en aangedui dat hy nie beseer is nie. Toe ek terugkeer na die bakkie was die twee selfone en my amptelike DBV-kwitansieboek, wat op die sitplek gelê het, weg," sê Lucas.
Die DBV vra lesers om asseblief op die uitkyk te wees vir vals kwitansies en mense wat voorgee hulle samel geld of goedere vir die DBV in.
"Die kwitansies het die DBV se handelsmerk op en is gemerk met die nommers 6701 tot 6800. Slegs personeel met amptelike DBV-uniforms mag hierdie kwitansies oorhandig," sê DBV-bestuurder, Frieda Jansen van Rensburg.
Enigeen met inligting kan die DBV gedurende kantoorure by 044 878 1990 of na ure by 082 378 7384 kontak.
Die Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, het die voorval bevestig." 'n Saak van diefstal vanuit 'n motorvoertuig is aanhangig gemaak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'