GEORGE NUUS - Minstens twee dames uit die buiteland, Linda Müller (Amerika) en Anna-Marie Myburgh (Nederland) gaan die reünie van die destydse SA Leërvrouekollege (voorheen Burgerlike Beskermingskollege) bywoon wat van 16 tot 18 November gehou gaan word.
Talle oudstudente, waaronder die bekende mediapersoonlikheid Ruda Landman, en die eerste bevelvoerder, afgetrede genl.maj. Marthinus du Plessis, gaan ook die reünie bywoon wat in Wilderness en George plaasvind.
Na verwagting sal meer as die helfte die reünie bywoon. Van die oorspronklike groep van 128 is reeds 21 oorlede. Dit is moontlik dat 'n dame van Switserland ook die reünie gaan bywoon.
LEES MEER: Ruda Landman gaan reünie bywoon
Müller (haar nooiensvan was Roodt) het per e-pos laat weet dit is met groot opgewondenheid en afwagting wat sy besig is om voorbereidings te tref om die reünie by te woon. Sy en haar man, Gerbrandt, woon al die afgelope nege jaar in Chambersburg, 'n dorp naby die historiese Gettysburg slagveld in sentraal-suid Pennsylvania.
Volgens haar het die jaar in George destyds baie vir haar beteken. Dis nie net goeie herinneringe nie - dis goue herinneringe.
Myburgh (haar nooiensvan) het gesê as sy terugdink is dit met baie groot dankbaarheid. Wat haar bygebly het, is die dissipline wat van dames verwag is. Sy het dit beskryf as 'n fantastiese tyd in haar lewe.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'