GEORGE NUUS - Die reünie van die destydse SA Leërvrouekollege (voorheen Burgerlike Beskermingskollege) gaan van 16 tot 18 November plaasgevind nadat dit weens Covid-19 uitgestel moes word.
Talle oudstudente, waaronder die bekende mediapersoonlikheid Ruda Landman, en die eerste bevelvoerder, afgetrede genl.maj. Marthinus du Plessis, gaan die reünie bywoon.
Landman se van was destyds Wahl en sy is ook destyds aangewys as beste student van die jaar. Sy is later getroud met die bekende ekonoom, JP Landman.
Arina Jooste, die koördineerder van die reünie, het gesê die meisies het in 1971 geskiedenis gemaak het toe hulle by die SA Leërvrouekollege in George aangemeld het en was ook die baanbrekers vir ander meisies om hul opleiding by die kollege te ontvang. Die kollege was vanaf 1971 tot 1998 deel van die gemeenskap van George.
Na verwagting sal meer as die helfte die reünie bywoon. Van die oorspronklike groep van 128 is reeds 21 oorlede. Vir die reünie kom drie selfs al die pad van Amerika, Switserland en Nederland.
Dit sal die eerste keer wees dat die meerderheid van die dames van die jaargroep weer saam sal wees. Destyds was hulle 18/19 jaar oud en nou is hulle 69/70 jaar oud.
Landman sal as programleier optree. Verskeie aktiwiteite word vir die paar dae beplan waaronder 'n besoek aan die voormalige kollege. Die terrein huisves deesdae die polisie.
Kol. MJ du Plessis (stigtersbevelvoerder) nou afgetrede generaal-majoor.
'n Besoek gaan ook aan die Outeniqua Moth Shellhole gebring word waar 'n seremonie gaan plaasvind. Na die sluiting van die kollege in 1998 word van die memorabilia daar gehou. Op 18 November word die geleentheid met 'n kerkdiens afgesluit.
Du Plessis het Maandag 11 Oktober gesê hy het baie goeie herinneringe aan die tyd toe hy bevelvoerder was. "Dit was een van die hoogtepunte van my lewe." Hy was twee en half jaar bevelvoerder.
Du Plessis sien baie uit na die geleentheid. Hy onthou Ruda baie goed en hulle het mekaar later jare weer 'n paar keer raakgeloop.
Volgens hom was dit die begin van vroue se betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse Weermag. Aanvanklik sou die dames in burgerlike beskermingshoedanighede ontplooi word, maar later kon hulle by die weermag aansluit.
Kol. MJ du Plessis (stigtersbevelvoerder) nou afgetrede generaal-majoor.
Hy onthou ook hoe wyle PW Botha soms kom inloer het. Botha was destyds minister van verdediging en ook die LV vir George. Hy het 'n groot rol gespeel in die totstandkoming van die kollege.
Landman het gesê sy sien baie uit na die geleentheid. Sy was destyds 17 jaar oud toe sy by die kollege aangekom het.
Dit het haar bietjie kans gegee om groot te word in 'n baie gestruktureerde, beskermde en uitdagende omgewing. Sy is nie spyt dat sy destyds by die kollege aangemeld het nie.
Die dames besig met driloefening as deel van dissipline vestiging.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'