GEORGE NUUS - 'n DA-staatmaker en senior lid van die party in die Suid-Kaap, Marchell Kleynhans (36) is klaar met die DA en die politiek.
Kleynhans, wat in die verlede 'n George-stadsraadslid onder die DA-vaandel was en tot onlangs die party se kiesafdelingsvoorsitter in George was, het uit alle strukture van die party bedank en ook as lid. Hy het dit by navraag bevestig.
Volgens Kleynhans fokus hy nou op sy sakebelange en sy gesin wat hy die afgelope tyd afgeskeep het.
Hy het 2011 stadsraadslid geword vir wyk 25 wat Uniondale en omliggende gebiede insluit.
In 2013 is hy op die burgemees-terskomitee aangestel.
Kleynhans het in die 2016 munisipale verkiesing verloor en 'n ANC-lid is tot die stadsraad in die wyk verkies. Toe 'n munisipale tussenverkiesing in 2017 gehou is, het hy weer vir die DA gestaan.
Dit was 'n baie taai verkiesingsveldtog en Kleynhans se lewe is bedreig. Hy het dit weer nie gemaak nie en na die tussenverkiesing het hy en sy gesin tydelik na George verhuis ter wille van veiligheidsoorwegings.
Kleynhans het toe by 'n gemeenskapsorganisasie, Gloryland Community Centre in Pacaltsdorp gewerk tot einde Junie vanjaar.
Volgens Kleynhans was sy plan om altyd later na Uniondale terug te keer. "My hart was altyd in Uniondale. Na die afsterwe van 'n familielid in Julie, het ek besluit om terug te keer na Uniondale."
Hy het 'n nuwe sakeonderneming, Kleynhans Fencing & Contractors, op die dorp begin.
"Ek het op 'n plaas grootgeword en het altyd belanggestel in heinings en sulke tipe dinge."
Die maatskappy voorsien heinings aan plase en ook woonhuise in dorpe. Voorts lewer dit brandhout en verskaf tuindienste. "Die onderneming is nou voluit aan die gang," het Kleynhans gesê.
Hy is baie gelukkig om terug te wees in Uniondale. "Die atmosfeer het verander. Nou kan ek weer in Uniondale se strate loop sonder om bang te wees."
Met die vestiging van sy sakeonderneming het hy ook gaan besin oor sy politieke betrokkenheid. "Ek het besluit om my verbintenis met die politiek te verbreek en Saterdag my bedanking uit alle DA-strukture ingedien. Ek het ook as DA-lid bedank."
Volgens Kleynhans het hy uit die DA bedank omdat hy ongelukkig is met die waardesisteem wat deesdae in die party gevolg word. "Ek het letterlik my lewe in die verlede op die spel geplaas vir die party. Hulle staan nie meer vir waaraan ek glo nie."
In die stadium oorweeg hy dit nie om by enige ander party aan te sluit nie. "In die politiek het ek 'n klomp onnodige vyande gemaak."
Hy sal steeds betrokke wees by gemeenskapsprojekte.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'