Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Prestasie-ooreenkomste gaan met DA-lede van die George-stadsraad gesluit word as deel van pogings om dienslewering te verbeter. Dit het aan die lig gekom tydens die eerste besoek van die DA se twee nuwe kiesafdelingshoofde vir George, Geordin Hill-Lewis en dr. Mimmy Gondwe.
Hulle is beide parlementslede van Kaapstad en het op 1 Julie die leisels oorgeneem by Andricus van der Westhuizen van Stellenbosch wat sedert Mei 2018 die DA-kiesafdelingshoof vir George was.
Kiesafdelingshoofde speel names hul party 'n oorsig rol.
Beide Hill-Lewis en Gondwe het verlede Vrydag in George aangekom en daarna indringende gesprekke met belanghebbendes gehad. Hill-Lewis het Vrydag onder meer 'n gesprek gehad met Melvin Naik, George se burgemeester.
Na verneem word het verskeie aangeleenthede ter sprake gekom onder meer verbeterde kommunikasie. Hill-Lewis het Vrydag ook gehelp met werwing vir die DA in wyk 20. 'n Tussenverkiesing vind op 17 Julie in die wyk plaas.
Saterdag het Hill-Lewis en Gondwe die DA-koukus in die stadsraad toegespreek. Dit is algemeen bekend dat daar interne woelinge in die DA van George is en in die politieke wandelgange word selfs gepraat van verskillende faksies.
Beide Hill-Lewis en Gondwe was positief na hul ontmoetings. Beide het benadruk dit is nog vroeg in die dag en hulle is nog besig om hulself presies van die situasie te vergewis. Hulle het erken daar is uitdagings, maar sê dit kan opgelos word.
Kyk 'n video hieronder.
Volgens hulle is die DA reeds besig met voorbereidings met die oog op 2021 munisipale verkiesing. Daar word onder meer gekyk hoe gehalte kandidate gelok kan word om vir die party te staan.
Hulle glo die uitdagings in George hou verband met 'n kombinasie van persoonlike aangeleenthede en beleid. Beleid moet beter met kiesers en inwoners gekommunikeer word.
Hill-Lewis het gesê dit is belangrik dat die fokus op prestasie en dienslewering sal wees. Waar die DA in beheer is, verwag die party 'n bepaalde vlak van dienslewering en sy verkose lede moet sorg dat dit deurgevoer word. Hy glo as die fokus op dienslewering is, sal die ander aangeleenthede soos persoonlike verskille op die agtergrond verdwyn.
Die DA is bewus dat die munisipaliteit 'n gekwalifiseerde oudit van die ouditeur-generaal gekry het. Dit kry aandag en moet reggestel word in die toekoms.
Die party in George gee ook aandag aan sy interne organisasie en strukture. In Oktober/November gaan die DA-takke algemene jaarvergaderings hou. Daar gaan gekyk word hoe die inwoners by die party betrokke kan raak.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê twee kiesafdelingshoofde is aangestel as gevolg van "die grootte van die kiesafdeling".
Die kiesafdeling word in verskillende dele verdeel en elkeen sal fokus op bepaalde dele.
Hill-Lewis sal ook verantwoordelik wees vir skakeling met die koukus.
Volgens Londt het die besoek goed afgeloop en die ontmoeting met die DA-raadslede was positief. "Ek is opgewonde oor Mimmy en Geordin se ingesteldheid. Die fokus is nou om George op die regte pad te kry."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'