GEORGE NUUS - Die wiele is uiteindelik aan die rol vir Cremhog (Christian Rehabilitation Ministries to the Homeless of George) se sentrum vir haweloses in George.
Dié organisasie het einde November 'n huurooreenkoms met George-munisipaliteit onderteken vir 'n stuk grond aan die onderpunt van Markstraat waar die beoogde sentrum opgerig sal word.
Die sentrum sal sentraal geleë wees en fokus op die sosiale rehabilitasie van hawelose persone.
"Ons is baie dankbaar en opgewonde oor hierdie verwikkeling, omdat die droom om 'n verdere bydrae te lewer tot die vermindering van haweloosheid in George uiteindelik kan waar word," het André Olivier, algemene bestuurder van Cremhog, gesê.
"Sodoende sal mense wat lank reeds op straat leef gehelp kan word om na 'n nuwe lewenspad te beweeg met al die basiese ondersteuning en dienste wat nodig is."
Die organisasie beoog om die sentrum tydens die eerste helfte van 2022 (na die goedkeuring van die bouplanne) te bou, en in die winter van 2022 met die eerste innames te begin.
"Cremhog sal baie addisionele hulp, borgskappe en kundigheid benodig om die oprigting van die fasiliteite en vestiging van dienste so spoedig moontlik te laat realiseer," het Olivier gesê.
Die bouwerk, groentetuin en areas vir vaardigheidsontwikkeling sal in fases gedoen word en huisvesting sal hopelik gedurende die winter kan plaasvind.
Hulp word verlang in die volgende areas: aanlê van groentetuine, oprig van watertenks, borge vir meubels in (aanvanklik) vier slaaplokale, eetsaal en ontspanningsaal, oprigting van die kombuis en ablusie geriewe, verskaf van plante en groente. Die koste per persoon beloop R1 750 per maand vir 'n maksimum periode van ses maande. Cremhog verwelkom enige vennootskap of borgskappe.
"Ons bedank almal wat saam met ons aan die droom bly glo het en wat reeds saam met ons vir die laaste 10 jaar hande gevat het om aan die hulpbehoewendes op straat verligting en hoop te bring. Ons vertrou die nuwe fasiliteit sal mense se lewens help heroriënteer en rig na 'n nuwe toekoms weg van die straatlewe," het Olivier gesê.
Besighede, instansies, kerke en individue wat 'n vennootskap met Cremhog wil sluit kan André Olivier kontak by cremhog.george@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'