GEORGE NUUS - Ons beste sporttoernooi nog. Só beskryf die oudskoolhoof André Swiegelaar, hoof van die Childactive-sportakademie in George, die gewilde jaarlikse sporttoernooi wat onlangs by Laerskool Outeniqua se sportterrein aangebied is.
Bykans 100 leerders het aan krieket, tennis en hokkie deelgeneem en die vaardighede wat hulle gedurende die jaar by dié sportakademie opgedoen het, voor 'n waarderende groep ouers en toeskouers ten toon gestel.
Al die spelers het pryse en medaljes ontvang wat moontlik gemaak is deur die borge soos Sportcentre, Tekkie Town, Rawson Properties, Peugot Motors, Brickmark, Outeniqua Solar, Geranimo Spur, Kraaibosch Shell Garage, Palm Tyres en Exocet.
Swiegelaar het sy dank teenoor die borge uitgespreek en gesê die Childactive-sporttakademie is oorweldig deur die ruim ondersteuning van hul borge.
"Ons is werklik geseënd en bevoorreg om lojale borge aan boord te kry. Sonder hulle hulp sou dié jaarlikse tweedaagse sporttoernooi nie aangebied kan word nie.
"Ons borge besef die waarde daarvan om deur sport in ons jeug te belê."
Die groep opkomende sportlui het onlangs aan die Childactive-sportakademie se jaarlikse sporttoernooi by Laerskool Outeniqua deelgeneem.
Swiegelaar sê die sportakademie se 15 toegewyde afrigters is baie trots op hul leerders en is veral bly om 'n bydrae te lewer om die kinders se vaardighede te verbeter en hulle te ondersteun in hul ontwikkeling as individue.
ARTIKEL EN FOTO'S: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD SPORT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'