GEORGE NEWS - 'n Mens doen dinge vir ander omdat dit reg voel en heerlik is - nie om altyd raakgesien te word nie. Hierdie boodskap van ds. Gert Nothnagel omsluit die hele wese van die George Vroue-landbouvereniging (VLV) in een sin.
Nothnagel het die Skriflesing en gebed by dié vereniging se 97ste verjaarsdagvieringe verlede Donderdag, 17 April, waargeneem.
Met drie jaar voor hul eeufees is die vroue gerat vir 'n groot makietie.
"Wat 'n wonderlike mylpaal in die geskiedenis van hierdie vereniging," sê Maretha van der Westhuysen, voorsitter van George-VLV. "Die VLV is gestig om vroue te bemagtig, en vir persoonlike groei."
Van der Westhuysen het met hul laaste byeenkoms voor die Paasnaweek 'n kort oorsig oor die laaste 97 jaar gegee, waarvan sekere historiese punte gesorg het vir ligte oomblikke.
In 1962 word 'n demonstrasie aan lede gegee oor die gebruik van aluminiumfoelie. Die koste was .55c vir dik foelie, en .25c vir 'n pak dun foelie.
In 1962 is 'n praatjie gehou oor die resep vir 'n goeie huisvrou: "Sy is een wat 'n goeie ete uit min kan voorberei."
Tot en met 1985 is notules met die hand geskryf, waarna verander is na getikte notules.
Die George-tak, met Diepkloof kort op hul hakke, is die oudste twee VLV-takke in VLV-Kaap, en is in 1928 gestig. VLV-Kaap is amptelik op 15 Oktober 1929 in Franschhoek gestig.
Takke is hierna dwarsoor die Kaapprovinsie gestig: Mosselbaai en Ladismith (1930), De Rust en Riversdal (1931). Mettertyd volg Albertinia, Heidelberg, Zebra en Uniondale. Tans is daar 17 sirkels in Kaapland, met altesaam 119 takke. Die Suid-Westelike Distrik is die grootste sirkel met 15 takke.
Dansers van Marlise's School of Spanish Dance het gaste vermaak met hul swierige danse.
'n Gesellige tafel met (van links) Linda Nell, Isabelle Strauss, Sanette Louw (gasvrou) en Elize Herbst. Hierdie vroue het die joernalis se oggend opgekikker. Foto: Michelle Pienaar
Marlise Steenekamp (links) en Merleen von Caues, tydens 'n optrede van Spaanse danse deur Marlise's School of Spanish Dance. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’