GEORGE NUUS - Passasiers op 'n GO GEORGE-bus is beseer toe 'n onbekende voorwerp - vermoedelik 'n papierrol - onder die rempedaal van die bus ingerol het en die busbestuurder nie kon rem nie. Die voorval het Saterdag 5 Januarie plaasgevind.
Zenobia van Rooyen het vertel dat sy Saterdag omstreeks 7:30 op 'n bus in Le Vallia geklim het.
Sowat 15 minute nadat sy op die bus geklim het, het dit begin spoed optel. "Die bestuurder het die remme begin pomp."
Later in Rosemoor het hy 'n skerp draai na regs gemaak. "Ek het van my sitplek afgeval."
Die passasiers het vir hom geskreeu om te stop. "Hy het gesê hy kan nie stop nie, want 'n papierrol het onder die rem ingerol."
Sy is na die George-hospitaal geneem en na behandeling ontslaan. "Niemand van GO GORGE het ons gehelp nie. Ons het navraag gedoen en daar is vir ons gesê al die grootbase is uitstedig. Die mense wat beseer is, is baie ongelukkig. Sover ek weet, wil almal stappe neem."
Virgil Gericke, PBI-stadsraadslid, het gesê van die families van die beseerdes het hom gekontak. "Ek is dadelik na die George-hospitaal. Daar het ek belanghebbendes van GO GEORGE, die provinsie en die munisipaliteit probeer kontak."
Een van die munisipale amptenare het hom teruggebel. Hy is meegedeel dat daar nie voorsiening is om beseerdes by 'n privaat instansie te behandel nie. Gericke het vrae daaroor.
Wat hom ook Saterdag warm onder die kraag gemaak het, is dat daar nie bystand van die munisipaliteit of GO GEORGE by die hospitaal was nie.
Morné Lakay, GO GEORGE assistentbe-stuurder, het per e-pos gesê die busbestuurder het hom goed gehandhaaf deur die bus tot stilstand te bring. "GO GEORGE wil beklemtoon dat passasiers se veiligheid die hoogste prioriteit geniet en dat slegs bevoegde, goed opgeleide busbestuurders gebruik word. Volgens standaard prosedure is nooddienste dadelik gekontak en die beseerdes is per ambulans na die George-hospitaal geneem waar hulle ondersoek, behandel en ontslaan is.
"GO GEORGE-bestuur het die beseerde partye Maandag ontmoet om te praat oor hul ervaring en hoe verdere bystand aan hulle verleen kan word - traumaberading is ook reeds gereël. 'n Bestuurslid sal in kontak bly met die beseerde passasiers om die proses op te volg."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'