Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Brugswaai gaan binnekort vanaf die brug oor die Gouritzrivier aangebied word.
Hierdie avontuur sal die nuutste toevoeging tot 104 toerismebestemmings tussen Riversdal en Tsitsikamma wees.
"Adventures Garden Route het 'n 10 jaar-huurkontrak op 'n ope tenderproses van Sanral verkry," sê Alewijn Dippenaar, wat avontuurtoerisme in die Tuinroete bevorder. "Ons wag vir Sanral se finale goedkeuring voordat ons die brugswaai kan begin aanbied."
Rekspronge vanaf die ou padbrug van 65m hoog was die eerste wat in Suid-Afrika aangebied is. Dit is in 2009 gestaak omdat die ou brug onveilig verklaar is en die nuwe brugswaai-avontuur sal vanaf die N2-brug plaasvind.
Volgens Dippenaar kom die verskil tussen rekspronge en brugswaai daarop neer dat die persoon met 'n reksprong ná die sprong weer opgehys word na die platform vanwaar die sprong plaasgevind het. In die geval van brugswaai word die persoon tot op die grond laat sak wanneer die swaai-aksie aan 'n statiese lyn ophou.
Daar sal ook 'n kantoor, restaurant en winkel, waar Hessequa-produkte te koop aangebied word, op die perseel op die oostelike oewer van die rivier wees. Hier sal ook 'n toerismesentrum geopen word soortgelyk aan dié by Victoriabaai, Sedgefield en Mosselbaai, wat veral kleiner avontuur-toerisme-entrepreneurs, wat nie 'n eie kantoor het nie, se bemarking en besprekings kan hanteer. Ondersteunende dienste, soos die verskaffing van toerusting, mediese bystand, versekering en verblyfbesprekings sal hier aangebied word.
Kyk 'n video hieronder.
Dippenaar het pas teruggekeer van twee internasionale toerismeskoue. "Die doel met die besoek aan die ITB in Berlyn, Duitsland, en die MITT in Moskou, Rusland was om avontuurtoerisme in die Tuinroetestreek as 'n voorkeurbestemming aan die Europese en veral die ontluikende Russiese toerismemark bekend te stel.
Ons wil hê toeriste uit daardie wêrelddele moet die Tuinroete as 'n bestemming waar hulle wil vertoef, en nie net as 'n deurryroete beskou nie."
Tydens 'n vergadering van rolspelers in avontuurtoerisme aan die Tuinroete op 4 April is besluit dat die Adventure Garden Route Marketing Company geskep sal word met die doel dat dit as regsentiteit voortaan die bemarking van die streek by nasionale en internasionale bedryfskoue sal hanteer.
Die tweede Avontuurtoerisme Indaba en Ekspo word op 25 Oktober by die Wilderness Hotel op Wilderness, George aangebied.
Kontak Alewijn Dippenaar by 082 457 5675 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'